Die voormalige ster van Two and a Half Men en sy eksvrou, die aktrise Demi Moore, het in 2009 die organisasie Thorn gestig. Sedertdien voer Ashton ’n veldtog teen sekshandel; die liefdadigheidsorganisasie beywer hom vir die uitwissing van kinderpornografie en seksslawerny wêreldwyd. Ashton het gister roerend voor die senaat se komitee vir buitelandse verhoudings gepraat. Hy het van die grusame ervarings gedeel wat hy gehad het in sy pogings om seksmisdade te bekamp.

“Ek het goed gesien wat geen mens ooit moet sien nie,” het hy met trane in sy oë gesê.

“Ek het videomateriaal gesien van ’n kind wat dieselfde ouderdom as myne is wat deur ’n Amerikaanse sekstoeris in Kambodja verkrag word. Die kind was so deur haar omgewing gekondisioneer dat sy gedink het sy neem aan spel deel.”

Ashton en sy vrou, die aktrise Mila Kunis, het ’n dogter, Wyatt (2), en ’n seun, Dimitri (vier maande). Hy het ook vertel van ’n hartverskeurende oomblik toe hy besef nie Thorn of die owerhede kan ’n jong meisie help wat misbruik word nie. “My span het my hulp gevra. Ons het ’n oproep van die departement van binnelandse veiligheid ontvang om vir ons te sê ’n sewejarige meisie word onsedelike aangerand en die inhoud word aanlyn versprei.
“Hulle het haar drie jaar lank dopgehou, maar kon nie die skuldige vind nie. Hulle het ons hulp gevra. Ons was die laaste linie van verdediging. ’n Akteur en sy stigting was die laaste linie van verdediging!” Met ’n knop in sy keel het hy bygevoeg: “Ek moes nee sê, en dit het my verpletter; dit het by my gespook.” Hy het verduidelik dié ervaring het hom aangespoor om deur Thorn hulpmiddels beskikbaar te stel om met soortgelyke gevalle te help.

“In die drie maande daarna het ek saans wanneer ek gaan slaap gedink oor daardie meisietjie wat misbruik word en die feit dat ons haar kon gered het as ek die regte ding gebou het,” het hy gesê.

“As ek nou daardie oproep gekry het, sou die antwoord ja gewees het.”

© Cover Media