In plaas daarvan dat verbygaande motoriste naby Anchorage in Alaska na veiligheid gevlug het, het hulle nadergestorm toe ’n motor met die bestuurder vasgekeer, aan die brand slaan.

Dié dramatiese spanpoging is op die aanboordkamera van ’n polisievoertuig vasgevang.

Die motor het op sy sykant beland nadat dit in ’n ongeluk betrokke was. Die bestuurder se arm was onder die motor vasgekeer.

Daar was vir hom geen uitkomkans nie en boonop was die dreigende vlamme vinnig besig om ’n pad van verwoesting aan die onderstel en sykant van die motor te saai.

Vier manne, waarby die polisieman ingesluit, het met alle mag die motor wat op sy sykant gelê het, begin wieg sodat die arme bestuurder sy arm kon bevry. In die video kan gesien word hoe hy deur die sondak van die motor ontsnap terwyl hy sy beseerde arm vashou.

Hul onbaatsugtige optrede het hom van ’n gewisse en grusame dood gered.

In die agtergrond kan gehoor word hoe die baie verligte man hulle bedank met ’n “Dankie ouens, julle het my lewe gered.”

Waarskuwing: Beeldmateriaal mag sensitiewe kykers ontstel.