Tot en met die aankondiging het net 20 mense van hierdie ontwikkelings geweet en het dit onder die skuilnaam Project Dawn gehanteer. Die nuus is Donderdag op Twitter deur die nuustydskrif Time gedeel.

Dit word as ’n reuse-risiko vir die speelgoedvervaardiger bestempel omdat Barbie nie net nog ’n pop is nie. Dekades lank is sy as die simbool van ’n spesifieke soort Amerikaanse skoonheid beskou. Wat ’n prestasie vir ’n pop wat op ’n Duitse pop genaamd Lilli gebaseer is! Lilli was eers ’n strokiesprent wat toe ’n pop geword het wat seks gebruik het “om te kry wat sy wou hê”.

Barbie het darem nie daardie eienskap by haar oorgeneem nie. Sy het al 108 loopbane gehad – van ’n polisiebeampte, dokter en veearts tot ruimtevaarder en presidensiële kandidaat.

Lees ook: Veiligheidswenke om jou kind te beskerm

Maar Barbie se reeds dalende verkope vanaf 2012 het in 2014 ’n ernstige knou gekry. Sy is deur niemand anders nie as die Frozen-pop van haar troontjie verdryf.

Ook Lego het blokkie vir blokkie Barbie se heerskappy laat verkrummel en het in 2014 die grootste speelgoedmaatskappy ter wêreld geword. Gelukkig het Barbie genoeg lewenservaring om nie in sak en as (ontwerperstyl, natuurlik) te gaan sit nie. Sy veg terug op alle terreine. En gewigtige terreine boonop. Nou kan jy kies tussen die petite Barbie met wie almal mee vertroud is, die lang Barbie met kurwes en dan die werklike Barbie met haar volronde figuur. Laasgenoemde se geboorte is moontlik te wyte aan invloedryke bekendes soos Beyoncé, Kim Kardashian en Lena Dunham wat nie ’n aks terugstaan vir delikate perdebytjies nie. Lees ook: Khloe help ousus om fiks te bly

Terloops, as jy die werklike Barbie koop, sal daar ook ’n aanpassing in die klerekas moet kom. Want nes talle vroue daagliks hul lot bekla, gaan hierdie Barbie ook nie iets in haar bestaande kas hê wat regtig pas nie.

Bronne: time.com, cnn.com

– Saamgestel deur Annelene Oberholzer