’n Video van die Bulletin News in Tzaneen wys hoe die burgemeester eers moes hoor dat sy voertuig weggesleep gaan word en daarna hoe die blink spogmotor - ter waarde van sowat R1,2 miljoen - op ’n klein vragmotor gelaai word.

“Die voertuig is seker ’n maand oud,” sê Jacques Smalle, provinsiale leier van die DA in Limpopo en lid van die provinsiale wetgewer.

Jacques sê die balju het op die munisipaliteit toegeslaan nadat die hof vroeër beslis het die munisipaliteit skuld ’n diensverskaffer wat paaie gebou het geld.

“Die rekening vir die paaie en infrastruktuur beloop sowat R20 miljoen”, sê Jacques.

mayormain

Hy sê die balju het al vroeër die maand by die munisipale kantore aangeklop om die geld te eis, maar is aanvanklik met leë hande daar weg. “Ons (die DA) het ’n versoek gerig dat die balju die hof se uitspraak eerbiedig en sy pligte moet uitvoer,” voeg Jacques by.

Volgens Jacques het Maripe die voertuig wel later Woensdagmiddag terug gekry nadat die munisipaliteit glo spoedig die uitstaande geld betaal het. Hy sê egter die DA gaan ’n forensiese ondersoek na die besteding van die geld binne die munisipaliteit aanvra.

Huisgenoot het die munisipaliteit om kommentaar genader en wag nog daarop.