“Moet ek die ouers bel of die duiwelbesweerder?” Hierdie kleintjie se vreemde slaapgewoontes het haar arme oppasser sprakeloos gelaat – en nogal vreesbevange.

Mikaela Long het haar niggie opgepas toe sy sien die kind doen iets werklik ongewoon.

Beeldmateriaal van die kind se hoëtegnologie-babamonitor wys die peuter staan op haar kop. In haar slaap.

“Dit is die eerste keer dat ek ’n baba oppas en ek weet nie wat ek verkeerd gedoen het nie, maar my niggie slaap op die oomblik op haar kop,” het Mikhaela se twiet gelui, met ’n foto van die spookagtige swart-en-wit beeld daarby. “Bel ek haar ouers of die duiwelbesweerder”? Die foto’s het nogal ’n opskudding op Twitter ontlok, terwyl Mikaela se volgelinge enigiets van raad tot skreeusnaakse memes aangebied het.






Ten spyte van die vele verwysings na bonatuurlike aktiwiteite, het dit uitgekom dat Mikaela se niggie toe nie die hulp van ’n duiwelbesweerder nodig gehad het nie.

Die kind se ma het aan Buzzfeed News bevestig haar kind slaap gereeld op haar kop.

“Sy was die afgelope tyd nogal heel akrobaties,” was haar woorde.

“Dit slaan my ook dronk,” het sy gesê en bygevoeg “ek dink dis maar net haar manier om tot ruste te kom en gemaklik te raak.”