Min dinge is sekerlik so roerend soos 'n baba se eerste glimlag vir Ma en Pa. Maar klein Paisley Morrison-Johnson se ouers moes wag tot sy amper 'n jaar oud was om dié baie spesiale ouerskap-oomblik te beleef.

[caption id="attachment_141197" align="alignnone" width="600"]Foto: Caters News Agency Foto: Caters News Agency[/caption]
Dit was een van die opvallendste gevalle van Beckwith-Wiedemann-sindroom (BWS) wat die artse nog teëgekom het. Dié seldsame toestand wat oorgroot organe of ander liggaamsdele veroorsaak, kom by sowat een uit elke 14 000 geboortes wêreldwyd voor.

Shannon en Madison, van die Amerikaanse deelstaat South Dakota, het aanvanklik vir hul dogtertjie se lewe gevrees, want weens haar tamaai tong kon sy nie behoorlik asemhaal of eet nie.

"Die dokters was aanvanklik bekommerd dat dit haar lugweë kon versper," het Madison vertel. Daarom is Paisley ook in haar eerste week of wat aan 'n asemhalingtoestel gekoppel.

"Ons het haar probeer bottelvoer, maar die dokters kon nie 'n speen vind wat vir haar sou werk nie. Sy moes dus ook buisvoeding ontvang om genoeg kos in haar maag te help kry."

Madison-hulle het dus nie teëgestribbel toe hulle verneem Paisley se tong moes so gou moontlik verklein word nie.

"Haar tong het natuurlik pal uitgesteek, sy het gedurig daaraan gebyt omdat dit soveel spasie in haar mond opgeneem het.'' Dit het ook gelyk asof die arme kind pal snaakse gesigte trek, onthou haar ma.

[caption id="attachment_141200" align="alignnone" width="605"]Shannon Morrison-Johnson en Madison Kienow saam met hul dogter ná haar operasie. Foto: Facebook Shannon Morrison-Johnson en Madison Kienow saam met hul dogter ná haar operasie. Foto: Facebook[/caption] Op sowat ses maande is haar tong dus toe met sowat 5 cm verklein, maar dit was, helaas, nie 'n sukses nie. Veel ingrypender chirurgie sowat ses maande gelede het egter gelukkig geslaag. Nadat spier- en ander weefsel van altesaam meer as 15 cm verwyder is, kon Paisley vir die eerste keer haar mond toemaak...  en eindelik haar ouers met daardie glimlag beloon. En wat 'n vermurwende glimlag het sy nie.

"Ek kon dit nie glo nie. Ek was verstom oor hoe pragtig my dogtertjie ná alles gelyk het," het Madison vertel. Dit was ook 'n reuse verligting dat Paisley nie eens meer sukkel om te eet nie. "Sy's soos 'n nuwe mensie - haar gelaatstrekke lyk anders, sy lag baie en begin baie naby daaraan kom om haar eerste woorde te sê!"

[post-slider]

Omdat BWS die risiko vir gewasvorming beduidend verhoog, moet die dapper kleinding wel nog elke drie maande ondersoek word, totdat sy agt jaar oud is. Daarna sal die kans dat die sindroom kankergewasse kan laat ontwikkel, dramaties verskraal.

Dus is haar dankbare ouers nou "regtig vol vertroue oor haar toekoms". Shannon het juis 'n ruk terug ook al op Facebook gespog: "Paisley het vandag haar eerste regtige treë gegee. Hier's nou vir jou 'n trotse pa!"

Bronne: Facebook, howbigbws.com, nypost.com, express.co.uk, metro.co.uk, bws-support.org.uk