Toe drie arrogante inbrekers in die oggendure van 16 September by 'n huis in Gwinnett County in die Amerikaanse deelstaat Georgia wou inbreek, het hulle nooit gedink dat iets hulle sou keer nie.

Hulle het elkeen immers 'n vuurwapen in die hand gehad. En hulle het nie eens moeite gedoen om hul gesig te verberg nie. Maar hul waagmoed was van korte duur. 'n Beweging van agter 'n stapel bokse trek hul aandag. Een van die inbrekers besluit dis tyd om vorentoe te storm terwyl hy skote skiet. Maar sy heldhaftigheid kom hom byna duur te staan.

Die volgende wat hulle sien, is 'n tenger vrou wat self nie skroom om haar vuurwapen in te span nie. Die koeëls trek en die "dapper" inbreker en sy makkers blaas strompelend en teen hoë spoed die aftog.

En die vrou? Sy hou aan skote skiet tot waar die laaste van die drietal uit sig verdwyn. In hul haas om te ontvlug het een van die inbrekers deur 'n glasdeur gehardloop. Die polisie soek nou twee van die inbrekers. Die derde persoon, Antonio Leeks (28), het aan beserings beswyk wat tydens die voorval opgedoen is.

Die wetstoepasser Deon Washington het aan Channel 2 gesê dat die vrou haar reg om haar haar lewe en eiendom te beskerm, uitgeoefen het.

Die vrou is luidens berigte 'n restaurantbestuurder wat die aand by 'n vriend se huis oornag het.

Bronne: wsbtv.com, .fox5atlanta.com