Hy was baie opgewonde toe die rolprentmaker Koos Roets hom in 2015 vra om die temalied van die fliek ’n Pawpaw vir My Darling te skryf, vertel die Liedjieboer, Anton Goosen.

Koos se draaiboek is op Jeanne Goosen se gelyknamige roman gegrond.

Nadat die fliek op 8 Januarie uitgereik is en binne die eerste vyf dae meer as R1 miljoen by die loket verdien het met 22 000 mense wat daarna gaan kyk het, het die liedjie ook oornag gewild geraak.

Kyk na Anton se opname van ’n Pawpaw vir My Darling:

Dit word die afgelope week gereeld op gemeenskapsradiostasies landwyd gehoor en is ook op RSG se speellys ingesluit.

“Kyk, ek is self ’n bietjie verbaas oor hoe goed hy vaar,” vertel die 69-jarige Anton terwyl hy uit sy maag lag. “Jy kan eintlik nooit ’n liedjie se gewildheid voorspel nie. Soms dink jy jy het ’n treffer beet, maar dan gebeur daar niks met hom nie. Of andersom.”

Lees ook: Modder en Bloed se lusmaker-lokprent is hier!

Maar hy erken dat Pawpaw hom baie na aan die hart lê. “Ek het Jeanne se boek in die 1990’s gelees en kon dit eenvoudig nie neersit nie. Die humor, die patos en die menslikheid van die karakters is onvergeetlik.” En dit is presies wat hy met die liedjie wou oordra.

“Dit is rou, dit is akoesties, dit is blues . . . Omdat die karakters en die draaiboek so sterk is, het die lirieke ook vir my baie maklik gekom.”

Lees ook: Eerste kykie na die nuwe Afrikaanse rolprent Vir Altyd

Anton se ondersteuners kan uitsien na ’n nuwe album later vanjaar, sy eerste die afgelope 10 jaar. En natuurlik sal Pawpaw ook daarop wees, belowe hy.

Verder gaan dit goed met hom, vertel hy vanaf sy huis op Gansbaai in die Wes-Kaap. Dis nou al ’n jaar vandat hy nie meer rook nie en deesdae volg hy ook die banting-eetplan.

“Die lewe is lekker,” sê hy. “En die see is blou!”

As jy nog nie die fliek gesien het nie, kry dan hier ’n voorsmakie:

– Deur Jaco Hough-Coetzee