In die nuwe BBC dokumentêre reeks Planet Earth II bevind hierdie arme reptiel homself as’t ware in een van Hollywood se slangrillers.

Hy loop salig onbewus van die onheil oor die klipperige vlaktes, tot die slange soos ’n klomp skoolboelies hul gulsige oë op hom vestig.

Met die eerste aanval laat spaander die akkedis, maar die omgewing wemel van die slange en die akkedis kry dit reg om met indrukwekkende spoed die satanskinders uit te oorlê.

Die video is op ene Rick Pez se Facebook-profiel meer as 1,2 miljoen keer gedeel en meer as 448 000 mense het al geklik om te wys hulle hou daarvan of is mal daaroor.

Die hutswoord #Planetearth2 het ook op Twitter gewild geraak nadat talle mense op die video gereageer het.

"Moontlik die beste toneel in dokumentêre geskiedenis," het die Twitter-profiel Billionaires laat hoor.