Nadat die Afrikaanse duo Riaan Grobler en Rinél Day se eerste musiekvideo, Mi Amore, verlede jaar ’n Voices for Charity-prys gewen het vir musiekvideo van die jaar, het hulle nou spesiaal vir Valentynsdag ’n opvolg uitgereik: Ons is Liefde.

“Dit was weer ’n ongelooflike lekker ervaring,” sê Riaan. “Rinél is baie natuurlik en die energie tussen ons is tasbaar. Die liedjie gaan oor die liefde, mense kan lekker daarop dans en dit is trots Afrikaans!”

 

Ek en my Mi Amore @riaangrobler ... ons is reg vir #Jukebox ???

A post shared by Rinel Day Official (@rinel_official) on

Riaan sê aanvanklik het hy bedenkinge oor die Mi Amore-musiekvideo gehad “bloot omdat ek bang was, maar toe ek hoor hoe goed dit werk en die reaksie van die publiek sien, het ek baie opgewonde geraak. Almal het gevra ons moet ook in Afrikaans sing.

“Michael de Lange het toe die lirieke geskryf vir Ons is Liefde, wat ’n lekker opvolg op Mi Amore is,” vertel Riaan.

In Augustus stel hy en Rinél hul eerste duetalbum bekend.

“Daar is soveel navrae vir gesamentlike optredes en op die verhoog geniet ons mekaar se geselskap; daarom het ons besluit 2017 is die jaar. Ons stemme werk goed saam, ons energie vul mekaar aan en ons aanhangers vra daarvoor,” sê Riaan.

Rinél is ook volstoom met haar eie projek besig. “Benewens my en Riaan se duetalbum werk ek ook hard aan my soloalbum, wat vroeg vanjaar uitgereik word,” vertel sy.

“Die nuwe enkelsnit, Gyselaar, sien binnekort die lig.”  

Sy sluit af: “Mi Amore is ’n ongelooflik oulike, pretbelaaide en mooi musiekvideo, maar ek hoop Ons is Liefde sal suksesvol wees en selfs meer bereik.” Kyk die musiekvideo hier:

WEN

Om die nuwe musiekvideo te vier, gee Let's Go Productions een gelukkige paartjie die prys van ’n leeftyd: ’n kajuit op die Groot Boot (Groot FM se bootreis) van 31 Maart tot 3 April!

Om in aanmerking te kom vir hierdie groot prys, kyk die musiekvideo vir Ons is Liefde en volg hierdie skakel om in te skryf!