Soos wat dit op Moedersdae is, kon ma’s oraloor (hopelik) Sondag agteroor sit en ontspan. Pa en die kinders het rondgespring om ’n ontbyt of middagete op te tower of om ma te bederf en vir ete uit te neem.

Talle bekende mamma’s het ook hul Moedersdag-boodskappe op sosiale media gedeel.

Juanita du Plessis het op Facebook geskryf: “Gelukkige Moedersdag aan elke spesiale ma vandag! Hoop julle word stukkend bederf!”

Daaronder het sy ook ’n gedig, getiteld “Noem haar ma” gedeel, wat begin met die woorde: “Die Here het ’n engel op aarde geskep en omdat Hy vooruit kon sien, het Hy geweet dat ek haar oor ’n leeftyd nodig sou kry.”

Die aktrise Bertha le Roux het reeds vroegoggend op Facebook al die mammas ’n gelukkige Moedersdag toegewens. “Mag God jou seën met liefde en vreugde! Ek het gister (Saterdag) al my Moedersdag begin met ’n dag vol laggies en onvergeetlike oomblikke...Karate, hokkie en goeie vriende!” het sy geskryf.

Gistermiddag het Bertha gesê dat sy bederf voel: “Lucky girl!" Haar man, Karel, het die girls se handskrif gevat en ’n armband daarvan laat maak. By die inskrywing het sy ’n foto van die silwer armband, met die woord "Mamma", geplaas.

Die sangeres Elizma Theron het ’n video van haar dogter, Eli-ze, gedeel waarin die kleuter, al etend aan ’n roomyshorinkie, ’n boodskap vir mamma's gehad het. Eli-ze praat al agter haar ma aan en sê “Hallo almal. Gelukkige Moedersdag almal. Liefde...tatta!” Elizma sê ook vir haar dogtertjie om ’n soentjie te blaas, waarna Eli-ze haar handjie teen haar mond druk en ’n soengeluid maak.

Die aktrise Helenè Bester was by die Transkaroo Restaurant in Groot-Brakrivier. Sy skryf op Facebook by ’n foto van haar, haar ma en suster, Agnita Els en drie kinders: “’n Voorreg . . . Moedersdag.”

Die sangeres Cheree Strydom skryf by ’n foto van haar en haar twee dogters, Taylor-Hope en Bella-Joy, dat sy nie verlede jaar by hulle was vir Moedersdag nie: “Hierdie jaar het ek seker gemaak hulle travel saam.”

Ander stories op Huisgenoot.com:

Steve Carell deel hartseer nuus op Moedersdag

Eerste reusepanda vir 2016 in aanhouding gebore en vermurwe harte wêreldwyd

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou

Dié nege mense is vas oortuig hulle is deur ruimtewesens ontvoer

Ouers, só kan jy ’n liefde vir lees by jou kind help ontwikkel