Toe Adele haar album van die jaar tydens die Grammys (2017) ontvang het, het sy ná ’n betraande toespraak gesê “My man, my seun, julle is die enigste rede hoekom ek dit doen.” Dié woorde het die kuberruim laat gons, want sy was bekend daarvoor dat ’n huwelik die laaste op haar agenda sou wees.

Agter die skerms het sy van deuntjie verander toe sy met verslaggewers ná haar glorieryke aand praat en na Simon as haar “lewensmaat” verwys, berig People.com. Adele het eindelik die afgelope naweek tydens ’n konsert in Brisbane, Australië bevestig dat sy wel getroud is. Die sangeres agter die treffer Hello het haar liedjie Someone Like You by die konsert gesing, waartydens sy vir die skare vertel het van die emosies wat sy ervaar het toe sy die liedjie opgeneem het. Sy het toe verklap sy is nou in ’n heel ander emosionele situasie omdat sy “getroud” is met haar lewensmaat van die afgelope paar jaar, Simon Konecki.

“Ek het probeer onthou hoe ek aan die begin van die verhouding gevoel het wat hierdie liedjie inspireer het,” het sy gesê. “Want ongeag hoe bitter en aaklig dit kan wees as jy met iemand uitmaak, is daardie gevoel wat jy ervaar as jy die eerste keer verlief raak die beste gevoel op aarde, en ek’s verslaaf aan daardie gevoel. Ek kan natuurlik dit nie nou meer ervaar nie, want ek is getroud.”
Dit het al verlede Desember gegons dat Adele getroud is toe sy met ’n goue ring aan dáárdie vinger gewaar is en daar is gegis dat die paartjie oor die Kerstyd getrou het. Die sanger en haar man het glo in Oktober verlede jaar verloof geraak en ’n bron het toe aan die koerant The Mirror gesê hulle sou oor die Kerstyd trou sodat Simon se dogter uit sy eerste huwelik ook die troue kon bywoon.

St. Paul, MN / Xcel Energy Center / Jul 6

A post shared by Adele (@adele) on

“Die plan is om in Los Angeles te trou. Die troue sal in een van die skoolvakansies wees sodat Simon se dogter dit kan bywoon,” het die bron gesê.

“Dit lyk asof dit Kersfees gaan gebeur, maar hulle wil die besonderhede ’n geheim hou. Adele dra nie eens ’n verloofring nie. Hulle is ’n privaat paartjie en wil net hul naastes daar hê.”

Die 28-jarige sangeres het die gerugte verlede maand tydens haar aanvaardingstoespraak vir die album van die jaar-toekenning by die Grammys bevestig.

Adele en Simon, ’n liefdadigheidsbaas, is sedert 2011 saam en het ’n vierjarige seun, Angelo.

© Cover Media