Dit kom soms voor asof elke Russiese voertuig wat beweeg met ’n aanboordkamera toegerus is.

Daar word beweer dat dit ’n onfeilbare manier is om skuld of onskuld te bewys tydens ongelukke – omdat korrupsie moontlik die skaal van onskuldig na skuldig kan swaai as geloofwaardige bewyse ontbreek. Gaan loer gerus op YouTube na "Russian dash cam fails" vir talle voorbeelde.

In Suid-Afrika word dié tegnologie ook al hoe meer ingespan. Soms met skrikwekkende gevolge soos in die geval van Dewald Luce, waar hy kon bewys dat hy nie ’n verkeersoortreding by die Steyn’s City/Riversand-kruising by Earlingweg in Gauteng begaan het nie.

“Die man het homself as Jacob aan my voorgestel en vir my gevra of ek weet hoekom hy my van die pad afgetrek het," vertel Dewald.

“Toe ek sê dat ek nie weet nie, het hy my vertel dat ek nie by die stopstraat tot stilstand gekom het nie.

“Ek het dit ontken en aan hom gesê dat ek wel dood gestop het,” vertel Dewald.

“Dit was egter die motor langs my wat die verkeersteken as ’n toegeeteken eerder as ’n stopteken geag het.”

Hy sou ook vir Jacob sê hy kan die video vir hom wys wat duidelik sou toon dat hy wel nie die verkeersteken verontagsaam het nie. Nadat Dewald die beeldmateriaal van die aanboordkamera aan Jacob gewys het, was dit die einde van die storie.