Dié sepie het Donderdag ’n roerende video op hul Facebook-blad gedeel waarin Diaan met ’n afskeidspartytjie verras word.

In die video kan gesien word hoe Diaan, vir oulaas as die karakter Paula van der Lecq, wag dat die kameras begin rol in wat vermoedelik een van haar laaste tonele is.

Skielik begin 7de Laan se bekende temalied speel en reën konfetti op ’n oorblufte Diaan neer.

En toe rol die trane oor al wat ’n wang is soos nog geliefde 7de Laan-akteurs – onder wie Christo Davids, Theodore Jantjies, Melanie du Bois en Corné Crous – almal afskeid neem.

Diaan het in April vanjaar aangekondig dat sy gekies het om 7de Laan te verlaat om saam met haar man, Jody Abrahams, en hul twee kinders, Olivia en Thomas, Kaap toe te verhuis.

Dié gesoute aktrise begin eersdaags as lektrise by die Afda-rolprentskool en beplan ook om haar meestersgraad in televisie en teater te voltooi.

Nog spelers het in die afgelope paar maande aangekondig hul verlaat 7de Laan. Melanie du Bois (Felicity) het in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot bekendgemaak dat sy 7de Laan ná 13 jaar vaarwel gaan toeroep.

Jo de Silva (Gita), Christo Davids (Errol), Corné Crous (Kim) en Anelisa Phewa (Sifiso) het almal ook laat hoor hul dae op die 7de Laan-stel is feitlik verby.