7de Laan se Amorey en Willem het drankies geniet en toe die jolige aand verby was, deel die nig en neef, gespeel deur Kristen Raath en Markus Haywood, 'n warm soen!

’n Oordeelsfout, het albei aanvanklik die volgende oggend gedink, en drank die skuld gegee.

Maar toe gebeur die gevryery weer en weer… En as die een met iemand anders flikflooi, was die jaloesie omtrent aan die brand.

"Dit blyk of hulle ernstige gevoelens vir mekaar ontwikkel, maar hulle weet hul vriende en familie gaan nie 'n verhouding goedkeur nie, so hulle probeer dit onderdruk.

"Kykers gaan maar moet wag en sien of hulle mense gaan laat weet en of hulle eerder van alles gaan vergeet," sê Rosa-Mari Erasmus, publisiteitsbeampte van 7de Laan.

Daar is die afgelope twee weke omtrent in sosiale media gegons oor die witwarm gevryery tussen nig en neef. Van die kykers meen dat dit bloedskande is en ander dat daar 'n kinkel gaan uitkom wat aandui dat hulle nie regtig bloedverwant is nie.  

Sommiges meen weer hul gevoelens beeld die realiteit uit en dat nig en neef 'n mooi paartjie maak.

Wanneer die kameras ophou draai, is Kristen en Markus in die regte lewe wel 'n paartjie. Maar nee, hulle is nie werklik verwant aanmekaar nie!

Hul verhouding het begin toe albei verlede jaar in Desember in KwaZulu-Natal vakansie gehou het - Kristen op Ballito en Markus op Salt Rock. Maar voor die vakansie was daar reeds 'n "gevoel" tussen hulle, het Markus en Kristen vroeër vanjaar in 'n onderhoud vir Huisgenoot vertel.

Om sake op stel professioneel te hou, het hulle eers die nuus oor hul verhouding stil gehou. Hulle sal byvoorbeeld nou nog nie daar hande vashou nie.

En selfs toe hulle gemakliker en by die werk openlik daaroor geraak het, was baie kollegas nie bewus daarvan nie. Die twee gesels dikwels oor werk en leer baie bymekaar.

"Ons neem ons werk huis toe omdat dit ons passie is," het Markus vir ons vertel. Hulle droom oor baie dinge wat hulle nog saam wil doen. "Ons het 'n emmerskoplysie," het Kristen verklap.

Elke keer dat hulle iets op die lys doen, word dit afgemerk. Albei het al aan ons erken: 'n Soen in die reën en 'n soen in 'n aantrekhokkie het reeds merkies gekry.

Hoe oulik! 

Kyk hier hoe Twitter reageer het: