’n Volle 211 dae moes die klein woelwater Ari Schultz geduldig wag op ’n nuwe hart in die Boston-kinderhospitaal in Amerika.

Dan kom vertel sy ouers, Mike en Erica, dat hul grootste wens eindelik waar word. Die vyfjarige Ari is ’n groot bofbalondersteuner en nou sal hy sy gunstelingspan, die Red Sox, in die stadion kan sien speel, want sy skenkerhart wag op hom.

Hier is sy roerende; kinderlik opgewonde reaksie:

Kritieke aortastenose is reeds in die baarmoeder by hom gediagnoseer. Hierdie toestand behels probleme met die aorta, die hoofaar van die hart af. As hulle nie toe al ingegryp het nie, sou hy met net ’n tweekamerhart gebore gewees het. Daar is gewoonlik vier.

Toe hulle op 3 Maart hoor daar is ’n skenker wat by sy bou en bloedgroep pas, kon hy nie sy opgewondenheid beteuel nie.

“So, ek kan huis toe gaan?” vra hy dadelik, na aan trane.

“Nie môre al nie, maar binnekort,” antwoord sy pa.

In die mees onlangse inskrywing op hul webtuiste vertel sy pa dat hulle moet waak teen ontsteking en dat daar nog baie uitdagings voorlê, soos dat die hart verwerp kan word.

Maar hulle leef in dankbaarheid vir die skenker en skenkerfamilie se opoffering. Hulle moedig nou ander ouers aan om hul kinders op ’n skenkerlys te plaas.

[caption id="attachment_163705" align="alignnone" width="600"]Klein Ari Schultz. Klein Ari Schultz. [/caption]

Een skenker kan sewe ander mense se lewens red

Dis reg: ’n Hart, twee longe, twee niere, een lewer en een pankreas kan sewe mense ’n nuwe kans op die lewe gee.

In Suid-Afrika is minder as 0,2 persent van die bevolking geregistreerde orgaanskenkers. Dis veel minder as in ander lande: 37 persent van die Amerikaanse bevolking en 24 persent van Australiërs is byvoorbeeld geregistreer as skenkers.

Die Orgaanskenkingstigting van Suid-Afrika hoop om sy doelwit van 50 000 registrasies te haal. Dit is gebiedend noodsaaklik. Elke jaar word minder as 600 oorplantings uitgevoer en baie volwassenes en kinders sterf terwyl hulle op ’n lewensbelangrike oorplanting wag.

’n Mens kan gratis as ’n orgaanskenker registreer en die prosedure is eenvoudig: Besoek bloot die Orgaanskenkingstigting se webtuiste, www.odf.org.za, of bel die tolvrye nommer 0800-22-66-11.

Inligtingstukke sal vir jou gepos word. Dit sal ’n orgaanskenkingskaart en plakkers vir jou identiteitsdokument en rybewys insluit. Dit is belangrik dat jy jou besluit met jou familie bespreek, aangesien hulle ten tye van jou dood toestemming moet gee.

Moedig gesinslede, vriende, kollegas en almal wat jy ken aan om ook orgaanskenkers te word. Jy kan op die webtuiste sewe vriende en familielede se e-posadresse invul. Die Orgaanskenkingstigting sal hulle dan namens jou nooi om orgaanskenkers te word.

Bronne: youtube.com, echoofhope.org, huffingtonpost.co.za