Dié aanval word as die "nuwe gesig van terrorisme" bestempel - waar 'n enkeling om een of ander rede geïnspireer word om 'n aanval te loods al beskik hy net oor die basiese vermoëns. Tydens die onlangse voorval het 'n 22-jarige man gewapen met 'n groot mes 'n middeljarige man onverhoeds betrap en herhaaldelik met die mes gesteek. Hy het glo verskeie kere tydens die aanval "iemand vandag gaan sterf" en ook "Allah Akbar" geskree. Die aanvaller, wie intussen as Ihsas Khan geïdentifiseer is, het glo Saterdagmiddag net na vier sy slagoffer by 'n park ingewag. Wayne Greenhalg (59), 'n bekende inwoner van Minto, het glo gereeld die roete op sy daaglikse staptog gevolg.

Dis daar waar Khan sy skrikwekkende aanval op die niksvermoedende Wayne geloods. Ten spyte van byna noodlottige steekwonde aan sy hande en lyf, kon Wayne by Duyen Phan se nabygeleë haarsalon skuiling vind.

Duyen het vinnig gedink en dadelik die salon se deur agter Wayne gesluit en so vir Khan in sy spore gestuit. Op beeldmateriaal vasgevang deur kringtelevisiekameras kan gesien word hoe Khan eers die salon se glasdeur probeer stukkend slaan en daarna die deur probeer oopskuif. Gelukkig kon hy nie dit regkry nie. Die dapperheid van inwoners het gekeer dat Khan wel vir Wayne vermoor. Omstanders het hom met 'n heiningpaaltjie gekonfronteer en probeer onder beheer bring. Die polisie het later daarin geslaag om Khan te bedwang. Hy is gearresteer en daar is reeds bekend gemaak dat verskeie klagte teen hom aanhangig gemaak gaan word. Kyk hier na 'n video van hoe die aanval verloop het. Waarskuwing: Video mag sensitiewe kykers ontstel.

Wayne se toestand is intussen van kritiek na ernstig afgegradeer.

Volgens berigte ken Kahn nie sy slagoffer nie. Wayne se vrou, Bronwen, het aan Channel 9 gesê dat Khan hulle glo vroeër die dag genader het met 'n Koran in sy hand.

"Ons het gedink hy gaan ons iets vra, maar toe draai hy net om." Khan het glo aan die polisie bevestig dat hy nie vir Wayne ken nie, maar dat hy sonder enige ware rede net nie van hom gehou het nie. Volgens die Sydney Morning Herald het 'n polisiebron gesê Khan het beweer dat hy die leier van die Islamietiese Staat (IS) ken en dat hy wel daartoe geregtig is om mense dood te maak ten einde die Soenie-Moslems te beskerm en ook hul dood te wreek. Adjunk-polisiekommissaris, Catherine Burn, het ook genoem dat ondersoekbeamptes inligting bekom het wat daarop dui dat Khan die aanval beplan het.

"Ons weet hierdie persoon het sterk ekstremistiese oortuigings deur IS geïnspireer," het sy gesê.

Meer oor Ihsas Khan: Khan het aan Hurlstone se landbouskool matrikuleer waarna hy universiteit toe is. Hy is as 'n baie aangename en intelligente seun bestempel. Maar toe skop hy op vroeër vanjaar weke nadat sy ma gesterf het. Na haar dood begin hy glo vreemd optree, soos om bloot voor aankomende verkeer in te hardloop. Van sy bure kla ook dat hy op hulle skree. Wat wel ook aan die lig gekom het, is dat die plaaslike polisie reeds twee keer in die verlede ontbied is nadat Khan mense gedreig het oor hul "nie-Islamietiese" gedrag.

Hy is ook in 2013 aangekla van kwaadwillige beskadiging van eiendom toe hy 'n Australiese vlag vernietig het.

Saterdagaand, 10 September, vind die polisie 'n elektroniese weergawe van IS se tydskrif Dabiq asook tekens dat hy op YouTube na ekstremistiese beeldmateriaaal gekyk het.

Bronne: northerndailyleader.com.au, abc.net.au, smh.com.au