Die militêre KC-130-vliegtuig het sowat 135 km noord van Jackson in die Mississippidelta neergestort.

Sheriff Ricky Banks het gesê almal aan boord was heel waarskynlik deel van die Amerikaanse Marinierskorps. Hy kon nie bevestig of enige burgerlikes aan boord was nie.

Andy Jones, wat op sy ouers se visboerdery werksaam was, sê hy het ’n harde plofgeluid gehoor en toe hy opkyk, het hy die vliegtuig na die grond sien spiraal. Een van die enjins was volgens hom aan die brand.

Hy sê die brand was te intens om enigsins naby die wrakstukke te kom en dat die vliegtuig feitlik gelyk teen die grond te lande gekom het.

“Die (soja-)bone staan heuphoogte en daar was nie veel van die vliegtuig wat bo dit uitgesteek het nie,” het hy gesê.

Greenwood se brandweerhoof, Marcus Banks, het aangedui dat wrakstukke afkomstig van die vliegtuig in ’n radius van sowat 8 km gevind is.

“Dit was een van die ergste brande wat jy jouself kon voorstel.”

Luidens berigte was daar “hope ammunisie” in die vliegtuig. Dit versterk die moontlikheid van ’n ontploffing aan boord van die vliegtuig voor dit neergestort het.

Volgens Banks moes brandweerlui tydelik onttrek word aan die hoof-ongelukstoneel nadat ’n gedeelte van die vliegtuig ontplof het terwyl hulle die vlamme onder beheer probeer bring het. Daarna is nog talle kleiner ontploffings vanuit die vliegtuig gehoor.

“Dit was een van die ergste brande wat jy jouself kan voorstel,” het hy gesê.

Meer as 15 000 L skuim is ingespan om die brand onder beheer te bring.

Kapt. Sarah Burns, woordvoerder van die Amerikaanse Marinierskorps, het die ramp as ’n ongeluk beskryf, maar wou nie veel meer inligting daaroor bekend maak nie. Dieselfde boodskap is deur die Mariene Korps op hul Twitter-rekening oorgedra.

Dit is in hierdie stadium ook nie seker vanwaar die vliegtuig gekom het en waarheen dit op pad was nie.

Die Lockheed Martin KC-130

Foto ter illustrasie. Foto Ethan Miller/Getty Images News
  • Dit is ’n skroef-aangedrewe vliegtuig met vier enjins en is ’n aangepaste weergawe van die C-130 Hercules-vragvliegtuig.
  • Die KC-130 is toegerus met ’n langafstand-brandstoftenk wat so aangepas is dat brandstofhervullings tydens ’n vlug in die lug kan plaasvind.
  • Die vliegtuig is wel ook in staat om troepe, toerusting en in gevalle wapens te vervoer.

Bronne: clarionledger.com, nbcnews.com, dailymail.co.uk, theguardian.com