Kom twiet saam, ons wys jou hoe met hierdie maklike stappe.

Sluit aan: 

Gaan na www.twitter.com, klik op “Sign Up” en vul die basiese inligting op die tuisblad in. Jy het net ’n geldige e-posadres nodig om te registreer en hoef geen persoonlike besonderhede bekend te maak nie.

Kies ’n aanmeldnaam:

Dit kan jou naam wees, ’n bynaam, jou maatskappy se naam of iets anoniems. Jou aanmeldnaam sal met ’n @-teken vooraan verskyn, byvoorbeeld @Huisgenoot.

Verpersoonlik jou profile:

Jy kan ’n foto van jouself of jou maatskappy se logo by jou profiel voeg en ’n kort opsomming van 160 karakters skryf oor wie jy is. Voor jy die opsomming skryf, vra jouself hoekom jy wil hê mense jou moet volg, en sluit daardie inligting by die opsomming in.

Soek mense om te volg:

Soek mense, onderwerpe of ’n tydskrif soos Huisgenoot met die soekfunksie. As jy iemand interessants vind, kyk wie hulle volg wat ook vir jou interessant lyk.

Begin twiet:

Jy het 140 karakters waarmee jy kan sê wat jy wil, maar hou dit veilig. Soos jy tik, sal jy kan sien hoeveel karakters jy oorhet. As jy klaar is, klik op “return” – dan is jou boodskap buite in die kuberruim waar jou volgelinge dit kan sien. As jy spyt is oor iets, kan jy altyd later ’n twiet skrap.

Volg hierdie bekendes:

@MaxduPreez “Daar is ’n Italiaanse sêding wat veral van toepassing is op SA in 2011 –‘die situasie is desperaat, maar nie ernstig nie’.”

@Queen_UK Snaakse segued van iemand wat voorgee om die koningin te wees: “Boodskap van mnr. Obama: ‘Hoe laat is aandete? Moet ek heelmiddag met die ou van Kameroen uithang?!’Verstaanbaar.”

@LeeAnn_L (model Lee-Ann Liebenberg) “Op pad na die mees romantiese plek . . . Parys saam met my man!”

@Katyperry “Ek kleur vanaand my hare. Kan julle raai watter kleur?”

@karenzoid “Het ’n fantastiese dag gehad. Het aan drie nuwe liedjies saam met my groep gewerk. Tyd vir ’n bier.”

@francoishenning (Snotkop) “Klaar geskiet vir Kwêla, nou so 2 dae vakansie! Heerlik!”

@heinzwinckler “My nuwe album 24/7/365 is nog net 2 weke uit en al klaar nr 14 op RSG se top 20 wat verkope aan betref! Dankie.

Kan ek in die moeilikheid beland?:

Net as jy die wet oortree. Soos enige prokureur jou sal sê, is die wette in die kuberruim dieselfde as in die regte lewe.

Maar die sosiale netwerk was onlangs in die kollig in Brittanje nadat Ryan Giggs daarop ontmasker is as die sokkerspeler wat met ’n hofbevel wou keer dat die nuus oor sy skelm verhouding in die media uitlek.

Daar is op die oomblik 75 000 mense wêreldwyd wat in die sop is omdat hulle inligting soos Ryan se hofaansoek op Twitter uitgelap het. Maar of hulle ooit vervolg sal word, is ’n ope vraag.

Wees wel net gewaarsku: Toe Paul Chambers grappenderwys vir ’n vriend opTwitter gesê het hy sal die Robin Hood-lughawe in Doncaster, Engeland, “hemelhoog” opblaas as hulle sy vlug weens sneeu uitstel, is hy daaraan skuldig bevind dat hy ’n dreigement elektronies aangestuur het.

Hoewel sy volgelinge sy oorspronklike twiet regoor die wêreld hertwiet het, is hy as die oorspronklike twieter met R4 235 beboet.

Volg Huisgenoot op Twitter.