’n Musiekstudent van KwaZulu-Natal het wonderbaarlik aan die dood ontkom nadat hy vir drie dae met ’n gebreekte been in ’n afgesonderde, bergagtige en bebosde area sonder enige kos, water of kommunikasie onder in ’n kloof vasgekeer was.

Justin Williamson (32) het reënwater uit sy hemp gepers en dou van die gras rondom hom gedrink om aan die lewe te bly.

Hy was erg gedehidreer en gedisorïenteerd, maar ook baie verlig toe hy Donderdag, 15 Desember, ná ’n intensiewe soektog gered is, vertel Steven King, uitvoerende hoof van die nie-winsgewende organisasie, SA Community Crime Watch, wat die soekgeselskap geloods het.

Steven vertel Justin se familie het hulle verlede Maandag laat oggend gekontak. Vrywilligers van dié organisasie, die twee sekerheidsfirmas Specialised Security Services en Securelink en lede van die polisie se soek- en reddingseenheid het met hul honde met die soektog gehelp.

Justin is vroegoggend by sy ouerhuis in Waterfall buite Durban weg en is eindelik in die KwaXimba area, buite Cato Ridge sowat ’n kilometer binne die bergagtige bosarea gekry. Volgens Steven was dit beeldmateriaal van die naby Phezulu-landgoed wat hulle reeds die Maandag bekom het, wat hul soektog in daardie rigting gestuur het.

justin-3

Tristan Dickerson van Phezulu en konst. Khehla Mashlaba van die Inchanga-polisie was aan die voorpunt van die soektog.

Plaaslike media berig hy is by sy huis weg omdat hy plante wou gaan dokumenteer en foto’s neem. Sy pa, Calvin, het aan Huisgenoot bevestig dit is sy stokperdjie.

“Hy praat nie regtig oor die voorval nie en ons druk hom ook nie. Justin het gedink niemand gaan hom ooit daar kry nie. Dit was bloedig warm.”

Hy vertel hulle het nie een dag ophou soek nie en kon nie een nag geslaap nie.

justin-5

“Ons het eerlikwaar net geweldige verligting ervaar (toe ons hoor hy is veilig gekry). Ons kon nie ons indink wat kon gebeur het nie -- ’n mens weet net nie.”

Calvin vertel sy seun is stabiel en herstel nog in die hospitaal. Sy regterkuitbeen is gebreek. Aangesien dit vakansie is was daar nog nie ’n ortopediese chirurg beskikbaar om aan Justin se been te opereer nie. “Dit sal waarskynlik eers na die naweek kan gebeur," het sy pa gesê.

Calvin was nie by toe sy seun, wat klassieke kitaar aan ’n musiekkollege studeer, eindelik opgespoor is nie en het vertel Justin het sy foon laat val. Hy vertel in die area is daar ook bitter min selfoonopvangs.

Huisgenoot het verneem Justin se selfoon is baie ver van hom af gekry, wat almal aanvanklik op ’n dwaalspoor gestuur het.

Justin is eindelik deur ’n lid van Specialised Security Services, Cebukhulu Khomo, gekry.

justin-4

“Ons wil ons dank uitspreek aan ’n wonderlike gees wat geopenbaar is deur die plaaslike gemeenskap wat dadelik bereid was om met die soektog te help,” sê Steven.

“Ons wil ook erkenning gee aan die puik hulp wat ons van Paul Knoessen en sy span van die nooddienste ER24 met die reddingspoging ontvang het.”