KwaZulu-Natal gaan teen November vanjaar op die N2- en N3-hoofweg e-tolstelsels kry, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) Woensdag bekendgemaak.

Anders as in Gauteng, gaan dit nie ’n bykomende tol wees nie, net ’n alternatiewe manier van bestaande tolgeld insamel, het Logashri Sewnarain, Sanral se streeksbestuurder vir KwaZulu-Natal en die Vrystaat, gesê.

Die e-tolstelsel gaan by die bestaande Marianhill-toldeurgang op die N3 en by die Oribi-toldeurgang op die N2 naby Port Shepstone geïmplementeer word. “Mense moet onthou dit is nie ’n addisionele tol wat gehef word nie,” het sy gesê.

Die huidige betaalmetode by die twee punte gaan behou word, maar daar gaan twee ekstra bane gebou word en motors sal teen sowat 40 km/h deur die e-tolhekke kan beweeg.

Volgens Logashri gaan die sluitboom nie outomaties oplig vir motors sonder e-tolskywe nie.

Motoriste sonder die skywe sal steeds deur die ou tolhekke moet ry en met kontant of ’n kaart die tolgeld betaal.

Meer as 100 000 voertuie gebruik daagliks die N3 en die e-tolstelsel gaan verkeervloei verbeter.

“Die ou tolhekke kan tussen 200 en 300 voertuie per uur hanteer, maar die syfer verhoog tot 700 motors per uur met e-tolskywe,” het Logashri gesê.

- Sapa