“Dit gaan baie beter. En met my rehabilitasie by die biokinetikus is daar ook baie verbetering. My een arm raak ook al sterker,” sê JG aan Huisgenoot.

JG sou vanjaar met matriek begin het, maar ná sy ongeluk is hy medies geklassifiseer as ’n C5-kwadrupleeg, het Netwerk24 vroeër vanjaar berig.

Dit beteken hy het min of geen gevoel van sy skouers af ondertoe.

“Voorheen kon ek my arm skaars oor die tafel lig, maar nou kan ek hom al tot by my gesig lig en my gesig daarteen vryf. En in my regterarm voel ek ook al ’n bietjie van ’n flikker. Dit is beslis iets wat bygekom het.”

Volgens JG gaan hy twee keer ’n week vir rehabilitasie. Hy is vasbeslote om volgende jaar sy matriek af te handel.

“Ons het al met mense begin praat oor hoe ek my matriek sal kan klaarmaak en ook oor moontlike studierigtings en loopbane waarna ek sal kan kyk.”

JG sê hy het hierdie jaar ekstra klasse begin neem vir sommige van sy vakke om hom voor te berei op volgende jaar. JG, wat ’n kranige rugbyspeler was, sê hy oorweeg dit om later in sportreg te spesialiseer omdat hy nog altyd so mal oor sport was.

“Ek is iemand wat met my kop kan werk, want fisiek kan ek nie baie doen nie,” sê hy. Hy meen sy vriende en familie ondersteun hom voortdurend en help hom om positief ingestel te bly.

“My broer (Bekker) is iemand wat nog altyd daar was vir my. En my vriende kom kuier nog baie. Hulle kan sien ek is nog ek. En ek wou maar nog altyd my stempel afdruk voor ek net sommer moed opgee. Dit hou my gemotiveerd.”

Hy sê hy is bly hy kon die matriekafskeid bywoon.

“Ag nee, kyk, ek het uitstekende vriende en het saam met ’n wonderlike meisie gegaan. Ek het die aand regtig geniet. Ek het so bietjie op my manier gedans en ons het grappies gemaak en net ’n fun aand gehad. Selfs toe ek moes eet het hulle gesê hulle wil my voer,” sê JG laggend.

JG se ma, Ezeth Oosthuizen, self ook ’n biokinetikus, sê twee versorgers help om die beurt om JG by te staan.

“Dit help ongelooflik baie en ons het nou al ’n bietjie van ’n roetine.” Sy sê hulle moes ook hul huis aanpas om dit meer rolstoelvriendelik te maak.

“Maar ons sal later moet trek, want JG sal meer onafhanklik wil raak,” sê sy.