“Dankie vir almal se tonne gebede, hope liefde en ondersteuning; ek loop vandag uit Milpark-hospitaal! ’n Bietjie rus, dan is ek terug. Liefde!”

Dit was vanoggend die Afrikaanse sanger Kurt Darren se twiet vanuit sy bed in die Milpark-hospitaal in Johannesburg, waar hy sedert 6 Julie behandel word.

Kurt se broer, Darren van Heerden, sê die Loslappie-sanger wil nou net huis toe gaan. Hulle hoop die dokter gee toestemming dat Kurt vandag nog ontslaan kan word.

Die afgelope weke was pynlik vir Kurt: Hy het 11 ribbebene gebreek en ’n haarlynfraktuur in sy skedel gekry nadat hy, sy vriend Marnus Bisschoff en dié se assistent, Nadia van Rensburg, op die Kameelfontein-pad noordoos van Pretoria in ’n ongeluk was. Die voertuig het in ’n rivierbedding langs die pad beland nadat Marnus, wat bestuur het, vir ’n aankomende voertuig uitgeswaai het. Hulle was op pad om Kurt by sy huis te gaan aflaai.

Buiten die seer van die gebreekte ribbebene maak die haarlynfraktuur dat Kurt se oë nie na buite kan kyk nie en dat hy dubbelvisie en hoofpyne kry.

Darren sê sy broer het nog pyn, maar dit gaan elke dag beter. “Kurt wil so graag huis toe gaan. Ons hoop dit is vandag. Hy is nog baie seer en sal met baie sterk medisyne moet huis toe gaan.”

- Hilda Fourie Besoek ook: Foto's van Kurt se ongeluk Foto's van Kurt Darren Foto's van Kurt en Dunay se troudag