Kurt Darren se “verloofde” drafstap die trap af in sexy swart nagklere. “Jy kan jou presentjie later vir  my gee, jou ou tier,” koer sy voor sy met ’n koketterige “grrrr” vir haar sangerkêrel grom.

Dan klap die klapbord, die regisseur roep “sny!” en Kurt lag saam met Christina Storm oor die snaakse toneeltjie wat hulle pas verfilm het.

Die twee speel saam in ’n splinternuwe Afrikaanse fliek waarin niemand anders nie as ons kaptein Kurt die romantiese hoofrol vertolk. Ek Lief Jou begin op 3 Junie landwyd in rolprentteaters draai en vir Kurt is dit een van vele drome wat waar geword het.

“Ek is verslaaf aan flieks. Ek kyk elke nuwe een wat uitkom,” vertel hy ’n paar dae voor die première van Ek Lief Jou.

“Mense sal my seker nie glo as ek dit sê nie, maar ek droom van flieks vandat ek kan onthou.

"Party aande wanneer ek gaan slaap, sal ek vooraf besluit of ek van ’n aksiefliek, iets  romanties of dalk wetenskapsfiksie wil droom.” Van daai “iets romanties” is daar wel nie te veel in Ek Lief Jou nie, want Kurt se vrou in die regte lewe, Dunay, het ’n stokkie voor ’n fliekvryery gesteek.

“Sy het net gevra dat daar nie baie liefdes- of soentonele moet wees nie en ek het haar belowe daar sal nie wees nie. ’n Soen is vir haar heilig en intiem. Sy voel sy het met ’n sanger getrou, nie ’n akteur nie, en ek respekteer dit.”

Maar dat Kurt sy lyf akteur kan hou, is nie te betwyfel nie.

Lees meer in die Huisgenoot van 2 Junie. 

Volg Huisgenoot op Twitter.