Die sanger Kurt Darren het vandag selfs meer pyn as gister, het sy broer, Darren van Heerden, vroegoggend aan Huisgenoot gesê. “Dit gaan goed met Kurt, maar hy het verskriklik pyn,” het Darren gesê. “Hy het vandag selfs meer pyn as gister.”

Darren sê Kurt se vrou, Dunay, wat saam met haar ma en tannie op ’n plesierboot is om haar 30ste verjaardag te vier, het verskriklik gehuil toe sy die nuus van haar man se motorongeluk hoor.

“Dunay wil net terugkom, maar Kurt het gesê sy moet daar bly en die res van haar vakansie geniet. Die vakansie was ’n verjaardaggeskenk van Kurt aan Dunay. Sy het op 29 Junie verjaar.”

Kurt en twee vriende, Marnus Bisschoff en Nadia van Rensburg, was Sondag in die vroeë oggendure in ’n motorongeluk toe hulle met ’n Toyota Fortuner in ’n rivierbedding beland het. Kurt is met ’n helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem nadat aanvanklik gevrees is dat hy sy rug gebreek het. Die ongeluk het enkele kilometer van sy huis in Pretoria gebeur.

Kurt het agt ribbebene gebreek en bloeding op sy longe opgedoen. Marnus se kakebeen is uit lit en hy het ernstige rugbeserings opgedoen. Nadia het haar regterbeen gebreek.

Dunay het sowat 16 uur gelede getwiet: “Baie dankie vir elke persoon se gebede en boodskappe & een GROOT DANKIE aan ons Hemelse Vader dat hy my man, Marnus en Nadia gespaar het. Xx”

Dis nog nie duidelik wat haar planne is of wanneer sy terugkeer nie.

Louis van Wyk, die sanger se bestuurder en vriend, sê “hope” van Kurt se vertonings moet nou gekanselleer word. “Dis in dié stadium seker sowat 20 vertonings,” het Louis vertel vanaf die Natalse Suidkus, waar hy vakansie hou.

“Kurt het bloeding op sy longe. Hy gaan minstens ses weke buite aksie wees. Ons wag vir die mediese span om ons te adviseer oor hoe lank hy buite aksie sal wees. Hulle sal ons hopelik vandag duidelikheid daaroor gee. Die klante bel ons van oral; almal wil weet wanneer Kurt weer sal kan optree. Ons sal eers met die dokters moet praat om presies te weet hoeveel vertonings en tot wanneer ons sy vertonings moet kanselleer of uitstel.”

Kurt sou een van die kunstenaars gewees het wat die naweek by Skouspel-Kaapstad optree, maar sal dié optrede nou noodgedwonge moet kanselleer. - Danél Blaauw en Hilda Fourie Besoek ook: Foto's van Kurt Darren Foto's van Kurt en Dunay se troudag