Weens swelling en die ongemak wat Kurt ervaar, is nog x-strale geneem. Die tweede x-straal het gewys Kurt het nege ribbebene aan die regterkant en twee aan die linkerkant gebreek. Van die ribbebene is op twee plekke gebreek, terwyl ander gesplinter het.

“Kurt het baie seerder gekry as wat enigiemand dink,” sê Louis. “Hy verduur baie pyn. Hy haal moeilik asem en sukkel met dubbelvisie en korttermyngeheueverlies as gevolg van ’n harde stamp teen sy kop tydens die ongeluk.”

Kurt dra ook ’n oogklap omdat sy oog skeef trek. Louis sê hoewel die skade aan die beseerde oogsenuwee nie permanent is nie, kan dit maande duur voor dit herstel en kan die moontlikheid van ’n operasie nie uitgesluit word nie. Die dokters is voer tans oogtoetse uit.

Louis sê Kurt sal weer op die verhoog wees sodra hy van al sy beserings herstel het. Hy het volle vertroue en die dokters het ook gesê Kurt sal ten volle herstel.

Van Kurt se bespreekte optredes tot einde Julie is uitgestel tot ’n latere datum.

- Hilda Fourie