HULLE is twee van die topverkopers in die Afrikaanse musiekbedryf – so te sê musiek-adel wat gereeld op die treffersparade boer. En nou kan hulle nog ’n regmerkie op hul CV’s vol ellelange suksesse voeg – Kurt en Bobby is deesdae ook opkomende rolprentsterre.

Die twee tree albei op in die langverwagte musiekfliek Liefling.

Die fliek is ’n treffer – dit was in die openingsnaweek verlede maand die gewildste van alle flieks en het die beste gevaar van enige Afrikaanse rolprent sedert 1980.

En dan is daar nog iets wat die twee in gemeen het – albei is binnekort permanent vir die skoner geslag verlore.

Kurt en Bobby staan op die drumpel van die kansel. En om alles te kroon trou die twee musieksterre enkele dae uit mekaar.

“Ja, ons gaan nie eens by mekaar se troues kan wees nie,” sê Bobby half geskok. “Dinge is net so bedrywig,” sug Kurt. “As ek en Dunay (Nortjé) nie in Januarie trou nie, sal ons nooit tot trou kom nie.”

Die twee gewilde sangers het onlangs ’n tydjie afgeknyp en ’n paar minute rustig met ons gesels oor hul fliekrolle en die naderende troues.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 9 Desember 2010