DIE gewilde Afrikaanse sanger Kurt Darren is in die vroeë oggendure in 'n Johannesburgse hospitaal opgeneem nadat hy agt ribbebene in 'n ernstige motorongeluk gebreek het. Aanvanklik is gevrees dat hy sy rug gebreek het.

Hy was vroeg Sondag in 'n stabiele toestand, maar het erge ongemak en pyn verduur, het sy broer Darren van Heerden enkele ure na die ongeluk aan HUISGENOOT vertel.

Nooddienste het Kurt Sondag omstreeks 01:30 per helikopter van die ongelukstoneel in Kameelfontein, Pretoria, na die Milpark Hospitaal in Johannesburg gevlieg.

Sy vrou Dunay was ure na die ongeluk nog onbewus van haar man se toestand. Sy het Dinsdag, 2 Julie, saam met haar ma Marinda Nortjé en haar tannie op 'n reis na Europa vertrek. Die vakansie was 'n geskenk van haar bekende man vir haar dertigste verjaarsdag wat sy op 29 Junie gevier het.

"Dunay weet nog glad nie van die ongeluk nie. Ons probeer haar nog in die hande kry," het Louis van Wyk, sy bestuurder en agent vertel.

Kurt, Marnus Bisschoff wat ook as agent vir onder meer DJ Ossewa optree, en sy assistent Nadia van Rensburg het Saterdag saam met Darren en nog vriende die Super Rugbywedstryd tussen die Bulle en Sharks in 'n restaurant in die noorde van Pretoria gaan kyk. Marnus en Nadia was op pad om vir Kurt by sy huis af te laai toe die ongeluk gebeur het.

Darren was ook op pad huis toe, toe hy 10 minute nadat hy sy broer gegroet het, ‘n oproep van Marnus gekry het dat hulle in ‘n ongeluk was. Hulle is van die pad af en het in ‘n rivierbedding beland.

Volgens Darren was hulle aanvanklik bang dat Kurt sy rug gebreek het en daarom het hulle gereël dat hy met ‘n helikopter na die Millpark-hospitaal geneem word. Hy het toe net agt ribbes gebreek. Marnus se kakebeen is uit lit uit en hy het ernstige rugbeserings opgedoen. Nadia het haar regterbeen gebreek.

Dunay sou nog die volgende week saam met haar ma op die plesierboot gewees het, maar sal waarskynlik so gou moontlik terugkeer. Deur Danél Blaauw en Hilda Fourie Besoek ook: Foto's van Kurt Darren Foto's van Kurt en Dunay se troudag