Van die begin van die jaar af moet alle Suid-Afrikaanse skole minstens twee uit vyf moontlike kreatiewe vakke onderrig aan leerders in gr. 7, 8 en 9. Maar is dit ’n goeie verandering en hoe raak dit jou kind se studie- en loopbaankeuses?

Ons gesels met Lize-Meri Smalberger. Sy gee Engels, dans en drama aan die Hoërskool Chris Hani vir Kuns en Kultuur in Khayelitsha, Kaapstad.

In watter vakke word leerders onderrig as deel van die verandering aan die leerplan?

Skole moet gr. 7’s tot 9’s in twee uit vyf kunstevakke onderrig. Die moontlikhede is dans, beeldende kuns, drama, musiek en grafiese ontwerp.

Hoekom is dié vakke deel gemaak van die leerplan?

Die kunstevakke moet kinders help ontwikkel in skeppende en vindingryke mense wat weet hoe om hulself uit te druk. Ook bied dit  alle kinders basiese toegang tot opvoeding in die kunste en stel dit hulle bloot aan dans, drama, musiek en die beeldende kunste.

Die leerplan wil kinders ook help probleme uitken en oplos, en leer besluite neem deur kritiese en skeppende denke. So leer aanvaar hulle verantwoordelikheid vir hul omgewing en ander se welsyn. “My leerders se eerste drama-oefening was in ’n groep. Hulle moes ’n maatskaplike probleem in hul omgewing kies, dit navors, bepaal wat die oorsake is en oplossings voorstel. Toe moes hulle dit alles uitbeeld in ’n opvoering, gegrond op hul navorsing,” sê Lize-Meri.

Kan leerders ná gr. 9 met die vakke voortgaan?

As hul skool dit ná gr. 9 aanbied. Die meeste skole bied van gr. 10 af geeneen of hoogstens een of twee van dié vakke af aan. Dit skep die geleentheid dat meer skole leerders van gr. 10 tot 12 in kunstevakke kan begin onderrig.

Al bied hul skool nie kreatiewe vakke ná gr. 9 aan nie, vind die leerders nogtans baat by onderrig in hul eerste twee jaar op hoërskool, en was dit in elke geval die moeite werd. Die leerplan bevorder lewensvaardighede. Baie van my skaam leerders het selfvertroue gekry nadat hulle drama geloop het. Dit wakker ook selfdissipline aan. Boonop bevorder die vakke selfverryking, dit maak die kinders oplettender en skerp hul sosiale vaardighede op.”

Hoe kan die vakke ’n kind se loopbaan- of studiekeuses beïnvloed?

Die vaardighede wat hulle deur die kuns- en kultuurvakke aanleer, kan hulle met talle werk- en studiegeleenthede help. ’n Loopbaan in die joernalistiek, reklamewese, ontwerp, bemarking, maatskaplike studies, skakelwese en menslike hulpbronne is maar ’n paar van die studie- en loopbaangeleenthede wat beskikbaar is aan leerders wat hierdie vakke neem.

Is dié kurrikulum ’n goeie idee?

Ja, leerders word aan die kunste blootgestel. Hulle raak aktief betrokke by klasaktiwiteite en baie groepwerk waartydens hulle leer om met ander saam te werk en ander menings te respekteer. Dit gee leerders selfvertroue en leer hulle hoe om hulself uit te druk in alles wat hulle skep.

Wat is die groeipyne met die bekendstelling van die kurrikulum?

Die grootste probleem is dat ons nie opgeleide onderwysers het wat die vakke aanbied nie. In sommige skole moet die rekeningkunde-onderwyser nou drama en dans gee, al het hulle dalk geen ervaring daarvan nie. So ly die gehalte van die onderrig skade. Nog ’n probleem is dat baie skole nie kunsvakke van gr. 10-12 aanbied nie; die leerders kry nie kans om verder klas te kry in die kunsvorm waarin hulle belangstel nie.

- Londiwe Dlomo

Ekstra bronne: Government document (Department of Basic Education), National Curriculum and Assessment Policy Statement (CAPS) for Creative Arts (Senior phase)