Voor die nagemaakte Eiffel-toring buite die Paris Casino in Las Vegas, Amerika, het ene Kevin ’n baie spesiale vraag om aan sy maat, Alyssa, met wie hy al lank uitgaan, te stel – met die hulp van ’n bietjie Vegas-toorkuns.

Toe die kulkunstenaar Rob Anderson hulle op hul eerste dag in die Stad van Sonde nader en aanbied om ’n vertoning met ’n romantiese tema vir die verliefde paartjie te lewer, het Alyssa niks agtergekom nie.

Foto: Magazine Features

Rob vra haar toe om ’n leë sak vas te hou, terwyl hy ’n reeks betowerende toertjies vir die twee bemindes doen – almal met die liefde as tema.

Rob laat sy eie ring verdwyn en verseker vir Alyssa dit sal in die sakkie verskyn wat hy in haar agtersak gesteek het. Hy sê dan grappenderwys as Kevin daarvan hou, moet hy ‘ ’n ring daaraan sit’.

Maar toe Alyssa die sakkie oopmaak, was sy verstom dat dit nie Rob se ring is nie, maar ’n verloofring wat daar uitval. En toe Rob dit vir Kevin aangee en dié op sy een knie afsak, was die toekomstige bruid oorstelp van emosie.

Rob se woorde was: “Ek het towerkuns dwarsoor Vegas en die hele wêreld beoefen, maar niks kom naastenby by die verrassing en vreugde op die meisie se gesig tydens die huweliksaanbod nie.

Bruid verstom oor huwliksaanbod. Foto: Magazine Features

“Sy was absoluut geskok; sy het glad nie geweet wat gaan kom nie. Sy het gedog sy kyk net na ’n straatkunstenaar, maar toe die verloofring verskyn, het sy besef daar steek baie meer daarin."

“Elke paartjie wat ek gehelp het om verloof te raak, het hul eie verhaal, en ek is absoluut gek daaroor om deel te hê daaraan. Ek is altyd so bly saam met hulle en ons bly daarna in verbinding. En boonop sê hulle vir my dit is ’n oomblik wat hulle nooit sal vergeet nie – dit is ’n yslike kompliment."

“Ek het met toorkunsies begin toe ek so vyf jaar oud was, en teen die tyd dat ek kollege toe moes gaan, het ek besef ek wou Vegas toe trek en dit heeltyds doen.

“Ek het sedertdien my eie televisieprogram aangebied, is miljoene kere op YouTube bekyk en het vertonings oor die hele wêreld aangebied.”