MET al die jongste koninklike gerugte in omloop voel ek amper of ek duskant Darling die plate veldblomme kan instap, die spreekwoordelike madeliefie kan pluk en dan blaartjie vir blaartjie kan raai: “Harry gaan verloof raak; nee, hy gáán nie. Andrew gaan weer met Fergie trou; nee hy gáán nie. Die Middletons kry hul eie woonstel in die Cambridges se nuwe woonkwartier in Kensington-paleis; nee, dis nie waar nie.” Want sien, Augustus is komkommertyd as dit by koninklike nuus kom, want koningin Elizabeth is weg Balmoral toe vir haar jaarlikse verlof en die res van die koningsgesin is selde in die openbare oog te sien. Daarom word elke flentertjie “nuus” dus alte dikwels uitgebou tot ’n gróót storie met weinig substansie. En een ding wat ek geleer het in my jare lange dophou van en navorsing oor Britse koninklikes se doen en late: ’n Mens kan bespiegel tot jy blou in die gesig is; niks is waar voor dit deur een van die amptelike kanale bevestig is nie, hetsy die Buckingham-paleis, Kensington-paleis of Clarence House.

ANDREW EN FERGIE!!!

[caption id="attachment_50206" align="alignnone" width="300"]Foto's: Elite Foto's: Elite[/caption]

Dié dus dat ek omtrent uit my vel wou bars oor berigte dat prins Andrew en sy eksvrou, Sarah Ferguson, weer op trou staan – tot ek besef het: Aha, dis Augustus.

Koninklike kenners is dit eens dat Andrew nie (weer) met Sarah sal kan trou terwyl sy pa, die hertog van Edinburg, nog leef nie. Prins Philip het sy gewese rooikop-skoondogter nog nooit vergewe vir die skandes en skades wat sy oor die Britse koningshuis gebring het nie. Die koningin, wat nog altyd ’n sagte plekkie het vir Sarah, ofte wel Fergie, het juis die Yorks begin vandeesmaand na Balmoral genooi vir ’n kuier. So het prins Andrew, Fergie en hul twee dogters, prinsesse Eugenie en Beatrice, almal die betrokke naweek saamgekuier in die Skotse hoogland. Een persoon het egter in sy afwesigheid geskitter – prins Philip, wat toe nog in Sandringham was waar hy aangesterk het ná die verkennende buikoperasie wat hy in Junie ondergaan het. Nou is prins Philip saam met die koningin in Balmoral, en almal wag om te sien of prins William en Catherine wel die koningin se uitnodiging sal aanvaar om daar te gaan uitspan omdat prins Philip nog nie sy agterkleinkind ontmoet het nie. Daar was sprake dat die Cambridges reeds die afgelope naweek koers sou kry Balmoral toe, maar Catherine is vroeër vandeesweek buite die winkel Waitrose in Anglesey gewaar waar sy haar inkopietrollie na haar motor gestoot het (en natuurlik spog sy klaar met ’n voorbaba-lyf!).

BEATRICE EN DAVE!!!

[caption id="attachment_50205" align="alignnone" width="207"]Foto: Gallo Images/Getty Images Foto: Gallo Images/Getty Images[/caption]

Maar terug by die Yorks, wat onlangs ook almal saamgetrek het vir prinses Beatrice se 25ste verjaarsdag. Daar is algemeen verwag dat haar sy en haar jare lange kêrel, Dave Clark, hul verlowing tydens haar verjaardagparty sou aankondig, maar 'n verloofring pronk nog nie aan haar linkerhand nie.

Beatrice se troue sal darem een geleentheid wees waarvan Fergie, ongeag die skandes van die verlede, nie uitgesluit kan word nie, anders as met William en Catherine se troue waarheen sy nie eens ’n uitnodiging ontvang het nie.

Andrew was nog altyd lojaal aan sy voormalige vrou. Elke keer as haar geldsake haar so in die knyp laat beland het dat sy voorbladnuus in Brittanje was, het hy haar skuld afbetaal. Maar aan haar verlore reputasie kan hy nie veel doen nie.

Feit bly dat sowel Fergie as Andrew hul dogters se opvoeding as hul hooftaak beskou het, en dat hulle vir die grootste deel van hul geskeide lewe wel onder een dak gewoon het, juis om hul kinders ’n gelukkige tuiste te bied.

Op albei prinsesse kan enige ouer seker met reg trots wees. Beatrice het ongeag haar disleksie 'n universiteitsgraad behaal, en Eugenie het as kind skoliose gehad en moes as 12-jarige 'n rugoperasie ondergaan.

Hoewel die twee prinsesse nie heeltyds diens doen as senior koninklikes nie, is hulle gereed om per geleentheid of op hul eie of saam met die koningin moue op te rol.

Albei se kleredrag het die afgelope paar jaar drastiese verbeter (pa Andrew skud sy sak sodat 'n stilis hulle kan bystaan met hul modekeuses), veral nadat Beatrice se vreemde hoed by William en Catherine se troue soveel kritiek ontlok het. Maar selfs dié modeblaps het Beatrice op haar plat-op-aarde-manier hanteer. Sy het die hoed ten bate van liefdadigheid laat opveil en só 'n negatiewe ervaring omgeskep in iets positiefs. Beatrice

HARRY EN CRESSIDA!!!

[caption id="attachment_50207" align="alignnone" width="300"]Dubbelbladsy uit Point de Vue, 6 Maart 2013 Dubbelbladsy uit Point de Vue, 6 Maart 2013[/caption]

Dit is egter nie net prinses Beatrice oor wie se liefdeslewe daar tans gegons word nie. Prins Harry sleep nou al langer as 'n jaar vlerk by Cressida Bonas, en hier in komkommer-Augustus verkondig talle Britse dagblaaie dat die rooikop-prins op trou staan met die langbeen-blondekop.

Om die vuur verder te stook, het Harry ’n besoek aan Angola ten bate van die Halo-trust, wat hulle vir die verwydering van landmyne beywer, gekombineer met 'n safari-besoek saam met Cressida aan Botswana. Dieselfde dag het die trouklokke begin beier. . . (Dit het natuurlik nie gehelp dat William destyds met ’n safari-besoek aan Kenia vir Catherine die jawoord gevra het nie.) Die een ding wat Harry hopelik by sy ouboet sou geleer het, is om sy aanstaande vrou lank en goed te leer ken. Hoewel Harry se vrou nie eendag naastenby onder dieselfde vergrootglas as Catherine beskou sal word nie, sal sy nietemin by die koninklike opset moet inpas . . . anders sal sy dieselfde paadjie loop as Fergie. En laastens, maar nie die minste nie . . .

DIE CAMBRIDGES EN DIE MIDDLETONS!!!

[caption id="attachment_49276" align="alignnone" width="300"]Die eerste amptelike gesinsfoto van prins George saam met sy trotse ouers. Die eerste amptelike gesinsfoto van prins George saam met sy trotse ouers.[/caption]

Die Cambridges was ná die (minder imposante) eerste foto's van hulle saam met prins George nog maar selde in die openbaar te sien. Ouma Carole is glo tans in Anglesey waar sy nie net help met haar eerste kleinkind se versorging nie, maar ook met die oppak van die huisraad. Die Cambridges trek mos binnekort na hul spliternuwe woonkwartier in die Kensington-paleiskompleks. En anders as wat 'n paar Britse Sondagkoerante berig het, word daar nie ’n privaat anneks vir Carole en Michael Middleton in die paleis beplan nie. Hoewel William en Catherine se nuwe woning oor 'n skaflike 21 vertrekke beskik, is daar vir ’n gastekamer of twee voorsiening gemaak, maar beslis nie vir ’n afsonderlike woonstel vir die Middletons nie. Ons onthou . . .

Diana

Saterdag is dit natuurlik die 16de herdenking van die dood van Diana, prinses van Wallis. Met nuwe beweringe dat die ongeluk waarin sy, Dodi al-Fayed en die motorbestuurder, Henri Paul, omgekom het, meer as net 'n ongeluk was, en die uitreiking van die rolprent Diana op hande, moet bewonderaars hulle maar staal vir 'n paar “eksklusiewe” Diana-stories.

- Arlene Prinsloo

Arlene foto Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Sy is ook Huisgenoot se koninklike blogger. Lees haar ander blogs by:

Die hartseer einde van prins Friso

Wat maak klein Gallie daar?

Welkom in die wêreld!

Is baba C stylvol laat?

Baba C gaan luid verwelkom word . . .

Harde werk tot Baba C opdaag!

Laaste sien van Catherine? 

Wie weet?

Dit is amptelik Julie, baba C se geboortemaand!