’n Video van ’n meisie wat tydens die kompetisie haar broekie begin aftrek en kaal dans in ’n stampvol Zanzibar, het in Desember opslae veroorsaak.

Dis geneem tydens die jaarlikse Plett Rage op Plettenbergbaai in die Suid-Kaap. Duisende matrieks uit alle dele van die land stroom jaarliks begin Desember na die kusdorp om vakansie te hou en die einde van hul skoolloopbaan te vier.

Die meisies wat in die video dans, het vroeër in Huisgenoot hart oopgemaak ('Hoekom het niemand my gehelp nie?', Huisgenoot, 5 Januarie 2015) oor die trauma van die ervaring. Hulle kan groot gedeeltes van daardie aand en die kompetisie nie onthou nie.

Volgens die kuierplek se eienaar, Greg Fischer, was dit nooit hul bedoeling dat enigiemand ’n slegte ervaring by hul klub moes hê nie.

“Zanzibar is trots daarop dat ons al 10 jaar ’n verskaffer is van goeie vermaak saans op Plettenbergbaai. Ons probeer voortdurend die kuierplek verbeter om ons klante ’n prettige ervaring te bied. Die gesondheid en veiligheid van ons klante is ook vir ons uiters belangrik.”

Volgens Greg het Zanzibar se personeel op die aand van die kompetisie voorsorg getref om hul klante asook die deelnemers se veiligheid te verseker. “Ons het ook seker gemaak dat die mense wat dit nodig het, hulp kry om ’n geleentheid huis toe te reël.”

Hy sê die meeste van die deelnemers het drank verantwoordelik gedrink en die kompetisie geniet. Maar hy meen van die deelnemers “daag die perke uit van gedrag wat sosiaal aanvaarbaar is”.

“Nadat ons die kommentaar van ons plaaslike gemeenskap oorweeg en geluister het na die bekommernisse wat uitgespreek is en veral weens die nadelige aandag wat die kompetisie op ons sakeonderneming, dorp en Plett Rage gevestig het, het ons besluit dat Zanzibar nie weer hierdie kompetisie gaan aanbied nie.”

Greg sê hulle het lank oor dié besluit nagedink.

Ronen Klugman, organiseerder van Plett Rage, het vroeër aan Huisgenoot gesê dat hy op die dag van die voorval met die eienaars van Zanzibar vergader het en hulle onder meer gevra het om die kompetisie te staak. Hy het ook sy ontevredenheid daaroor uitgespreek.

Zanzibar het die verklaring op hul Facebook-blad gedeel.