ROD HARRIS verwelkom jou nie met ’n uitgestrekte hand by die voordeur nie.

Nee, hy gee eintlik ’n tree agteruit en trek die groen masker versigtig oor sy mond en neus. “Verskoon tog,” sê Big Rod, soos sy vriende hom noem. “Die kans vir infeksie is veral nou baie hoog.”

Hy gaan sit moeisaam op die rusbank in die televisiekamer waar sy ou skoolvriend Raymond Haycock (36) wag. Dit is duidelik albei die manne het baie pyn. Maar hulle kla nie, want Raymond het pas Rod se lewe gered.

Twee jaar gelede het Rod gehoor hy het nierversaking. Hy het gedink sy lewe is verby. “Die dokter het gesê my niere is dood. En ek het gedink ek is dood.”

Maar alles het verlede jaar op ’n Vrydagaand in ’n videowinkel verander toe Rod in die ry gestaan het om ’n DVD uit te neem en sy ou skoolvriend gewaar. Destyds was hulle goeie vriende, maar in die jare na matriek aan die Hoërskool Kloof in Durban het hulle kontak verloor.

Nou het die twee weer aan die gesels geraak, en toe Raymond hoor Rod se lewe hang van ’n nierskenking af, het hy sonder ’n oomblik se huiwering laat hoor: “Ek sal vir jou ’n nier gee.”

Rod kon sy ore nie glo nie. “Ek het gedink Raymond maak ’n grap.” Maar Raymond het elke woord bedoel, en hier sit die twee vandag in Rod (35) se huis in Waterfall, Durban, elk met ’n lelike operasiewond aan die buik en met Raymond se nier fluks aan die werk in sy vriend se lyf.

“Dit was nie ’n moeilike ding om te doen nie. Enige mens sal dit vir hul vriend doen,” sê Raymond. So asof dit die normaalste ding onder die son is om ’n deel van jou liggaam in ’n ingrypende en uiters pynlike operasie weg te gee vir ’n ou wat jy ná jare toevallig weer in ’n videowinkel raakloop...

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 16 September 2010