’n Kind se vroeë kleuterjare is in die algemeen ’n moeilike fase. Jou kind raak groot en het skielik sterk menings oor wat hy geniet – en wat nie. Tande borsel is moontlik bo-aan die lysie dinge wat hy weier om te doen.

By my huis is dit ’n ewige stryd om my tweejarige se tande geborsel te kry. Ek word deur sterk verset in die gesig gestaar en baiekeer word alles behalwe haar tande in tandepasta bedek. Daar moet tog ’n beter manier wees om dié takie verrig te kry. Hier is raad om tande borsel maklik gedoen te kry.

Kry die regte gereedskap

Maak seker jou kind se tandeborsel is die regte een vir sy ouderdom en is gemaklik om te gebruik. Dit is ’n goeie idee om dit ’n rukkie in warm water te week; dit maak die borselhare sagter. Dis dalk vir ons die normaalste ding te wêreld, maar vir iemand wat nog nooit tande geborsel het nie, kan dit snaaks voel.

Volgende kom die regte tandepasta. Volgens die tandheelkundekenner Holly McDorman moet jy tandepasta kies wat vir jong kinders bedoel is. ’n Tweejarige gaan nie weet hy moet dit uitspoeg nie; kies dus tandepasta wat fluoriedvry is. Te veel fluoried kan lei tot fluorose, wat defekte in die tandglasuur veroorsaak. As jou kind tandepasta gebruik wat fluoried bevat, maak seker dat hulle nie te veel gebruik nie. ’n Bietjie so groot soos ’n ertjie is oorgenoeg.

Maak ’n speletjie daarvan

Kinders gaan vervelige take makliker klaarkry as jy dit in ’n prettige gesinsaktiwiteit verander. Sluit sibbe in sodat dit lekkerder is vir die jonger kind. As jou kind sien jy geniet dit om jou tande te borsel, sal dit dalk hul mening daaroor verander. Laat die kind homself in die badkamerspieël dophou en jou bewegings na-aap.

Moenie tou opgooi nie!

As die bostaande wenke nie resultate lewer nie, sal die ou gryp-en-klou-vir-die-vale-tegniek maar die ding gedoen moet kry. Pasop net dat jy die kind traumatiseer; dit gaan lei tot nog weerstand in die toekoms.

Perfekte produkte

Kliek hier vir 'n lys van Checkers se Oralwise-produkte vir klein tandjies.

- Lindsay de Freitas

Sources: voices.yahoo.com, allaboutkidsteeth.com, ahaparenting.com, parenting.com