In ’n volmaakte wêreld sal die eerste kinderoppasser met wie jy ’n onderhoud voer die regte een wees. Sy is uitstekend met jou kleinding en mal oor haar werk. Maar dit is nie altyd die geval nie. Soms moet jy ’n paar potensiële kandidate ontmoet voor jy die perfekte een vind, maar dit verg tyd en geduld wat besige mammas gewoonlik nie het nie.

Waar begin jy?

Die beste plek om te begin, is met ’n verwysing. Dit kan wees van familie, vriende, kollegas of ouers by jou kind se skool. “Verwysings van iemand wat jy vertrou, is ’n uitstekende basis,” sê die projekdirekteur Tintswalo Shikwambane, ’n ma van twee seuns van sewe jaar en ses maande.

Boitumelo Mpete, ’n kommunikasiespesialis van Pretoria, stem saam. “Ek verkies verwysings van familielede. Ek het ook die beste kinderoppasser gekry deur ’n oppasser wat vir my familie gewerk het. My dogter is nou vier jaar oud en (ons oppasser) is al met ons sedert (my dogter) nege maande oud was,” sê sy.

Laat dit in kenners se hande

Jy kan ook by ’n plasingsagentskap aanklop; dit kan duur wees, maar ook tyd bespaar. Agentskappe het ’n hele klomp aansoekers om van te kies en kan help met die keuringsproses. Maar nie almal hou daarvan om ’n agentskap te gebruik nie. “Ek hou nie van agentskappe nie omdat ek gevind het hul reëls bots met myne. Ek het al vantevore van hul dienste gebruik gemaak, maar dit het nie vir my gewerk nie,” sê Tintswalo.

Wat om te doen as geld en tyd beperk is

Nog ’n nuttige manier om te adverteer, is aanlyn op gratis snuffelgidse soos Gumtree of die kennisgewingbord by jou plaaslike winkel. Onthou as jy die advertensie skryf om die bepalings van indiensneming en ’n onderhandelbare salarisbedrag wat wissel tussen R3000 en R5000 in te sluit, afhangende van kwalifikasies en ervaring. Dit moet duidelik wees om seker te maak dat net geskikte kandidate aansoek doen.

Die plasingskonsultant Ruth Sibanda stel voor dat ma’s seker maak die persoon wat hulle aanstel kan omsien na kinders, het die regte kwalifikasies, verwysings en persoonlikheid om by die gesin in te pas. “Hulle moet verkieslik ’n kwalifikasie in kindersorg het wat aspekte dek wat met kindersorg te doen het, soos om ’n kind te leer hoe om die potjie te gebruik,” sê sy.

“Vra altyd vir ’n CV met kontakbare verwysings. Die CV moet al hul kindersorg-ervaring en voormalige werkgewers insluit,” sê Ruth. “Agentskappe soos ons s’n doen keuringstoetse, maar ons verkies ook dat kliënte self navorsing doen oor kandidate en onderhoude met hulle voer.”

Dit word aanbeveel dat ma’s kandidate per telefoon keur voor die ontmoetings vir die onderhoud. Dit kan gedoen word om die aantal mense te verminder met wie jy ’n onderhoud in persoon voer en jou dus tyd bepaar. Jy kan die telefoniese onderhoud gebruik om deur hul CV te gaan en om ’n idee te kry van watter soort mens hulle is, om te verseker alle bepalings van indiensneming is gedek en dat julle albei duidelikheid het voor hulle voortgaan met die proses.

Die volgende stap

Jy het nou ’n lysie van potensiële kandidate om onderhoude mee te voer, maar voor jy die onderhoude reël, moet jy besluit waar jy dit wil doen. Wil jy die onderhoud tuis of in ’n openbare plek doen? Die voordeel van ’n onderhoud tuis is dat jou kind die geleentheid het om die potensiële oppasser te ontmoet en jy kan vasstel of die twee van mekaar hou of nie.

Ruth beveel aan dat ouers vrae vra wat met die werk te doen het, soos die toediening van medikasie, of wat om te doen as die kind verstik. Kontak vorige werkgewers of verwysings voor jy ’n besluit maak.

Dek al jou basisse en doen navorsing oor die regsaspekte van die werkgewer/werknemer verhouding soos ’n getekende indiensnemingskontrak in lyn met die departement van arbeid se vereistes en registreer jou kinderoppasser vir die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).

Belangrike kwessies om te oorweeg:

  • Hoeveel die oppasser gaan verdien;
  • Ervaring en opleiding;
  • Werksure en verlof;
  • ’n Bestuurslisensie;
  • Hooftake;
  • Bykomende pligte soos die kind se wasgoed, etes; en
  • Taalvaardigheid.

-Koketso Mashika

Ekstra bron: officemum.ie