Daar is bittermin ma’s wat nie graag hul voor-swangerskap plat magie terugwens nie. Maar of jy nou tevrede is met hoe jy lyk of wens daardie (na)bababoep wil wyk, sterk maagspiere en postuur is goed vir almal van ons. So maak mens:

Opsitte met ’n lekker kinkel

plaat maag1plat maag2

Lê op die naat van jou rug met jou knieë gebuig en jou voete op die grond. Maak jou arms reguit om ’n hoek van sowat 90 grade met jou lyf te vorm. Doen nou ’n gewone opsit met jou arms voor jou uitgestrek. Wanneer jy in die sittende posisie is, draai jou lyf na die kant terwyl jy jou arms so ver moontlik uitstrek. Draai jou lyf weer vorentoe en gaan lê weer plat op die grond. Herhaal die beweging, maar draai die volgende keer jou lyf in die teenoorgestelde rigting. Onthou om uit te asem terwyl jy boontoe beweeg in die opsitposisie! Herhaal die oefening soveel keer moontlik in 60 sekondes.

Superman-opstote

plat maag3plat maag4

Dis ’n lekker manier om jou kernspiere te oefen. Begin in ’n opstootposisie. Lig jou linkerbeen so hoog op as moontlik terwyl jy jou regterarm voor jou uitstrek. Dit dwing jou om jouself op een arm en een been te balanseer. Keer terug na die opstootposisie en wissel jou bene en arms af. Moenie hierdie oefening te vinnig probeer doen nie, want jy moet jou balans kan hou.

Turkse Armstrekke

plat maag5plat maag 6plat maag 7

Hierdie oefening oefen al jou maagspiere gelyk. Begin deur op die naat van jou rug te lê met jou knieë gebuig. Hou jou voete op die grond en strek jou arms bo jou kop uit (op die grond). Hou jou handpalms na bo. Kom nou op in ’n sittende posisie terwyl jou arms steeds boontoe gestrek is. Druk jou met een arm op tot in ’n staande posisie. Gaan sit weer sagkens en rol op jou rug om die beweging te voltooi. Mik daarna om later op te staan sonder om jou met die hand op te stoot. Onthou om die arm waarmee jy in die staande posisie kom, af te wissel. Moenie te haastig probeer wees nie.