As dit ’n rukkie gelede was, is dit dalk goed om weer ’n slag jou vuurwa se nommerplaat onder oë te neem. Jy kan verplig word om dit te verwyder as ’n spietkop jou aftrek en dit nie korrek is nie.

Verlede jaar het ’n inwoner van Witbank, wat verkies om anoniem te bly, ’n onsmaaklike voorval gehad toe hy op pad terug van vakansie by ’n padblokkade afgetrek is.

Dié uitvoerende direkteur van ’n maatskappy wat gereedskap aan myne verskaf, sê die aluminium-nommerplaat met die Sans-stempel (Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde) wat die motorhandelaar uitgereik het, was volgens die polisiebeampte “onwettig”.

Die bestuurder het nie geweet sy nommerplaat moet die vereiste provinsiale Mpumalanga-logo (’n prentjie van ’n sonsopkoms) ophê nie. Sy nuwe voertuig is onpadwaardig verklaar en moes van voor af weer deur padtoetse gaan.

Volgens Zurika Louw, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nommerplaatvereniging (Sana), mag die verkeerspolisie nommerplate verwyder as dit nie aan die wetgewing en standaarde voldoen nie.

“Dit is gewoonlik die publiek wat die spit afbyt wat betref nommerplate wat nie aan wetlike vereistes voldoen nie omdat die regte inligting dikwels nie by hulle uitkom nie.”

’n Woordvoerder van die metropolisie, Nowellen Petersen, bevestig dit en sê ’n motoris mag beboet word of aangesê word om op die plek ’n nommerplaat te verwyder indien dit nie voldoen aan vereistes nie.

Hy sê die belangrikste is dat die nommerplaat die SABS-stempel (Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde) het en altyd duidelik sigbaar is.

Hier is ’n kontrolelys om seker te maak jou nommerplaat voldoen aan die vereistes:

  • Slegs drie groottes is aanvaarbaar vir Suid-Afrikaanse nommerplate:

    - 520 mm x 113 mm

    - 250 mm x 205 mm

    - 250 mm x 165 mm

  • Nommerplate moet ’n lewensduur van vyf jaar of langer hê.
  • Nommerplate moet ’n SABS-stempel ophê.
  • Nommerplate moet stewig met 4 mm skroewe vasgeheg wees.
  • Nommerplate moet die korrekte grafiese agtergrond hê soos wat elke provinsie vereis.
  • Enige vorm van advertensie op ’n nommerplaat is onwettig.
  • Gautengers mag teen die einde van 2013 nie meer plastieknommerplate hê nie.

- Amber Kriel

(Inligting verskaf deur Sana.)