Wat is nou lekkerder as om die wonder van ’n besondere storie met jou kinders te deel? Nie net kan jy ’n liefde vir lees by hulle kweek nie, maar hulle ook die vaardighede help ontwikkel wat hulle vir hul skoolvakke nodig het – van tale tot geskiedenis en wiskunde.

Hoe kan lees kinders met hul skoolwerk help?

Hardop lees help kinders leer terwyl hulle lees, sê die organiseerders van Nal’ibali, ’n Suid-Afrikaanse veldtog wat lees vir plesier aanmoedig. Nal’ibali beteken “dis die storie” in Xhosa.

“Wanneer kinders verstaan wat hulle lees, gebruik hulle hul verbeelding, hulle los probleme op, dink na oor goed, empatiseer, waardeer, oordeel, sorteer en vergelyk dinge met mekaar,” sê dr. Carole Bloch, direkteur van die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys (Praesa) wat die Nal’ibali-veldtog bestuur.

Verstaan kinders nie wat hulle lees nie, sal hulle nie net met tale sukkel nie, maar ook met vakke soos wiskunde, verduidelik sy. “Kinders druip soms wiskunde, nie omdat hulle nie die somme kan maak nie, maar omdat hulle nie die vrae verstaan nie.”

As ’n kind ’n storie kan volg, voorspel, verstaan en onthou, help dit hom om logies te dink en probleme op te los, sê Sandra Land van die Sentrum vir Volwasse Onderwys by die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Wat moet kinders lees?

Moet jou kind eerder stories lees as boeke oor hul gunstelingonderwerpe soos skoenlappers en dinosourusse?

Moenie hulle tussen fiksie en nie-fiksie laat kies nie, sê Sandra. “Moedig hulle aan om enigiets te lees waarvan hulle hou – stories, prentjieboeke, tydskrifte en selfs resepte.”

Kry hulle aan die gesels oor wat hulle gelees het met vrae soos: “Hoekom dink jy het dit gebeur? Hoe sou jy die probleem opgelos het?”

In fiksie en ook nie-fiksie boeke verken kinders karakters, plekke en stories, sê Carole. “Hulle verken die lewe en avonture van mense van alle ouderdomme en agtergronde en leer hoe hulle die lewe se uitdagings hanteer.”

Dit is ewe belangrik dat kinders boeke in hul moedertaal lees as in ander tale, sê albei kenners.

Maak lees lekker

Moenie te veel klem plaas op hoe kinders lees nie, maan Sandra. “As jy te veel op uitspraak en die mondeling-aspek daarvan fokus, gaan die betekenis verlore van wat jy lees.”

Moenie altyd die les van die storie probeer beklemtoon nie, maar eerder hoe die storie jou laat voel en die vreugde wat jy uit lees put, is haar raad.

Blaas lewe in die stories wat julle lees, stel Carole voor. “Jy weet jy is suksesvol wanneer jou kind ’n storie oor en oor wil hoor, dit self begin lees of selfs die karakters in die storie naboots.”

Wenke wat werk

Die manier waarop jy jou kinders aanmoedig om te lees, moet saam met hulle ontwikkel. Hier is van Nal’ibali se wenke vir elke ouderdomsgroep:

  • Babas en kleuters: Lapboeke met prente, kleuterrympies of eenvoudige boeke met die name van voorwerpe help alles ’n leeslus aanwakker. Lees ’n stukkie op ’n slag vir hulle voor, maar doen dit gereeld. Wys die kind op die verskillende kleure en teksture en maak interessante geluide.
  • Voorskoolse kinders: Laat die kind met ’n groot verskeidenheid boeke kennis maak. Kyk saam na die voorblad en raai waaroor die boek gaan. Lees vir jou kinders gereeld uit ’n gunstelingboek voor.
  • Laerskool: Sodra ’n kind self kan lees, kan hy of sy vir jonger broers en susters voorlees of hulle kan om die beurt hardop vir mekaar lees. Gesels oor hul gunstelingboeke en waarom hulle daarvan hou.
  • Ouer kinders: As hulle steeds lui is vir lees, kan jy kort romans met eenvoudige intriges aanbeveel. Deel ook gedigte, koerante, tydskrifte en leesstof van die internet met hulle. Lees elke dag ’n paar hoofstukke saam of as jou kinders liewer alleen wil lees, gesels met hulle oor die boeke wat hulle nou lees.

Waar kry ek geskikte leesstof?

Boeke, en selfs koerante en tydskrifte, kan jou sak ruk as jy jou kind aan die lees wil hou. Hier is sakpas-raad vir die ma’s van jong boekwurms:

  • Jy kan apps soos Storierak op jou slimfoon of tablet aflaai.
  • Begin ’n leesklub en ruil boeke uit met vriende wat kinders van dieselfde ouderdom as jy het.
  • Sluit by ’n biblioteek aan.
  • Op Nal’ibali se webtuiste is ’n wye verskeidenheid lekkerleesstories in verskeie Suid-Afrikaanse tale. Besoek hulle by www.nalibali.org of www.nalibali.mobi.

- Christelle Wiese