Dis vir enige gesin belangrik om ’n goeie slaaproetine te hê. Dit help ouers hulle uitrus sodat hulle hul woelwaters kan hanteer, en kinders wat weet hul dae het ’n vaste roetine, voel meer sekuur. Maar dit is nie ongewoon om te sukkel om ’n kind in ’n roetine te kry nie. Veranderinge soos ’n skuif van ’n wiegie na ’n bed of om die kind in sy eie kamer te laat slaap, kan nog ontwrigting veroorsaak. Sr. Ann Richardson is ’n spesialisverpleegster en ouerafrigter by die Lonehill-babakliniek, en is die medeskrywer van die boeke Baby Sense en Sleep Sense. Sy het ook die boek Toddler Sense geskryf. Hier gee sy raad oor hoe jy almal in die huis in ’n lekker slaaproetine kan kry.

Grondbeginsels met slaaptyd

Dis baie makliker om jou kind in ’n roetine te hou as om ’n nuwe een te probeer begin. Werk hierdie lys deur om te probeer vasstel wat slaapprobleme veroorsaak:

  • Maak seker jy en jou maat stem saam oor watter metode van slaapopleiding julle gebruik. Dit gaan nie help as die een byvoorbeeld glo die kind moet hom aan die slaap huil terwyl die ander een elke vyf minute gaan inloer nie.
  • Maak seker jou kind is gesond voor jy met slaapopleiding begin. ’n Kind met ’n toe neus of ander gesondheidsprobleme gaan in elk geval moeilik slaap.
  • Lae magnesiumvlakke kan ook slaapprobleme; oorweeg ’n aanvulling indien nodig.
  • Gebruik Rescue Remedy, ’n natuurlike kalmeermiddel, as jou kind sukkel om saans rustig te raak.
  • Maak seker jy het gedurende die dag genoeg tyd met jou kind deurgebring.
  • Skep ’n slaaparea, ’n stil, rustige ruimte waar jou kind slaap en weet daar word nie gespeel nie. Hou die kamer se ligte gedemp en vermy helder kleure of speelgoed wat sy aandag kan aftrek.
  • Moedig hom aan om ’n sagte speelding of kombersie as troetelding te hê. Gee dit elke aand vir hom, al verveel dit hom; as hy met dié voorwerp in ’n roetine kan kom, sal hy dit later met slaap assosieer.
  • Laat jou kind deur die dag aktief wees sodat hy saans moeg is.
  • Vermy saans of voor slaaptyd stimulerende speelgoed, programme of musiek. Sit die TV en ander elektroniese toestelle minstens twee uur voor slaaptyd af.
  • Stel ’n slaaptydroetine vas, soos ’n bad, tande borsel en stiltetyd.

Die skuif van ’n wiegie na ’n bed

Wanneer is dit die regte tyd? Ann sê jy moet dit slegs doen as jou kleuter snags uit sy wiegie klim of wakker skrik omdat hy nie genoeg slaapruimte het nie.

  • Laat jou kind die nuwe bedlinne en posisie van die bed (indien van toepassing) help kies. Dit is ’n goeie tyd om ’n slaaparea te skep; oorweeg gedempte kleure en maak seker die bed is in ’n rustige plek, óf in sy eie kamer óf weg van bedrywige areas in die huis.
  • Maak seker die bed het ’n kantreling, en dat dit teen die muur gestoot is.
  • Volgens Ann is ’n paar onrustige nagte normaal terwyl die kind aan sy nuwe kamer gewoond raak.
  • Bly ferm maar liefdevol oor slaaptydreëls.

Slaapopleiding

As jou kind steeds sukkel om op sy eie te slaap, kan jy die slaapopleidingstegniek beproef waar jy die kind vir kort rukkies op sy eie los.

  • Hou hom vas en troos hom tot hy slaperig is.
  • Volg altyd hierdie patroon wanneer jou kind kla oor waar hy moet slaap: Erken sy gevoelens, weerspieël die gevoel (“Ek wil ook hê jy moet by my bly”) en verskaf dan ’n rede hoekom jy nie kan nie. Noem die gevoel op die naam (“Ek weet jy voel kwaad/ongelukkig”) en noem altyd ook hoe jy voel (“Dit maak my kwaad wanneer jy skree”).
  • Sit die kind in sy bed, sê nag en verlaat die vertrek. Maak die deur toe as hy probeer uithardloop, maar volgens Ann hoef jy sleg te voel daaroor nie; dit is asof jy ’n wiegie se relings vir die kind se beskerming opsit.
  • Wag ’n ruk voor jy na die kamer terugkeer; hou hom vas tot hy weer slaperig raak.
  • Verlaat die vertrek onmiddellik as hy ’n vloermoer gooi. As hy slaperig is, sê nag en verlaat die vertrek.
  • Herhaal die proses tot hy aan die slaap raak.
  • Ignoreer dit as hy opbring of vloermoere gooi. Gee hom tyd om te kalmeer voor jy na die kamer terugkeer om hom te troos.
  • Wees altyd konsekwent en ferm.

Sr. Ann Richardson het by die Toddler Sense-seminare die bostaande inligting verstrek. Besoek toddlersense.co.za vir inligting oor die boek en semindare.