1.    Maak jou kind minder ma-vas: Laat jou kind ’n bietjie tyd saam met ’n kinderoppasser of familielid deurbring as hulle nie daaraan gewoond is dat jy weg van hulle is nie.  Dit kan dalk ook ’n goeie idee wees om jou kleinding aan die begin slegs ’n paar uur in die oggend kleuterskool toe te neem tot hulle gewoond is aan die idee. Dan kan jy die tyd stelselmatig langer maak.

2.    Leer jou kind roetines aan: Die meeste voorskoolse instellings werk met ’n voorspelbare roetine wat speel, slaap en etenstye insluit. As julle nie ’n roetine het by die huis nie, vestig vooraf ’n mate van roetine deur jou kind se maaltye elke dag op dieselfde tyd voor te sit en te verduidelik dat sekere aktiwiteite in ‘n sekere volgorde plaasvind.

3.    Berei jou kleinding by die kleuterskool voor: Wys jou kind waar hul klas is en praat dinge deur met hulle, selfs al dink jy hulle verstaan nie. Verduidelik dat jy hulle by die nuwe skool moet los en stel jou kind tevrede deur te sê jy is net ’n oproep weg.

4.    Laat jou kind in beheer voel: Laat hulle hul eie skoolsak uitsoek en jou ’n toebroodjie help maak en die kosblik help pak.

5.    Leer jou kind goeie maniere aan: Sê duidelik vir jou kind wat jy van hulle verwag en hoe hulle moet insekere situasies optree, byvoorbeeld hoe om “asseblief” of “dankie” te sê, om altyd ’n volwassene se hand vas te hou voor hulle die pad oorsteek, dat hulle nie met vreemdelinge moet praat nie en hoe om speelgoed op te ruim.

6.    Laat jou kind toe om saam met ander te speel: Gee hulle van vroeg af die kans om saam met ander kinders te speel sodat hulle goeie kommunikasievaardighede kan aanleer en maatjies kan maak wat ook dieselfde kleuterskool bywoon.

Vra vir jou kind hoe hul dag was: Vra jou kind daagliks hoe hul dag was of wat hulle alles by die kleuterskool gedoen het. Luister aandagtig en wys jy stel belang. Dit sal vir jou kind wys jy gee om en dit sal vir hulle lekkerder raak om skool toe te gaan sodat hulle oor hul dag kan praat. Jy sal ook so meer weet wat aangaan en gerus gestel wees.

8.    Moenie net ongesiens wegglip nie: Sê altyd op ’n liefdevolle wyse totsiens by die skoolhek en stel jou kind gerus dat jy hulle weer oor ’n paar uur gaan sien. Onthou ook om jou kind betyds op te tel – maak seker dat jy ’n paar minute vroeër by die skool opdaag.

9.    Maak seker jou kind woon die skool elke dag by: As jy jou kind jammer gaan kry omdat hulle nie weg van jou af wil wees nie en hulle by die huis laat bly, gaan dit nie die situasie verbeter nie. Dit gaan jou kind net langer vat om aan te pas.

10.  Vra vir hulp by die skool: ’n Mens kan nie altyd alles alleen doen nie, al is jy ’n SuperMa! Reël met jou kind se onderwyser om jou en jou kind op die speelgrond te kry en saam met jou kind na die klaskamer te stap. Onthou: Dis belangrik dat die onderwyser deel is van jou kind se integrasie by die nuwe skool.

- Janine Nel

Bronne: childparenting.about.com, education.com, ahaparenting.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.