Volgens ’n ondersoek* waarvan die bevindinge verlede Julie gepubliseer is, vaar kinders tussen die ouderdom van drie en sewe beter in lees en wiskunde en het hulle beter ruimtevermoëns as hulle ’n gereelde slaaptyd het. Op sewe geld dit veral vir meisies, wat oënskynlik meer deur min slaap geraak word as seuns van dieselfde ouderdom. Maar op drie jaar het dit geblyk dat seuns sowel as meisies met ’n ongereelde slaaptyd swakker in toetse vaar.

Die navorsers het meer as 11 000 kinders in Brittanje dopgehou en op nege maande, drie, vyf en sewe jaar besoek. Die toetse was byvoorbeeld woorde hardop lees, strukture met gekleurde blokke vorm en syfers identifiseer.

En moenie dink dis in die haak om te wag tot hulle sewe is voor jy die streng slaaptydreël toepas nie. Die navorsers het ook na die kumulatiewe uitwerking van slaap gekyk. Die uitslae het getoon dat kinders wat op ’n jonger ouderdom ’n ongereelde slaaptyd het, op sewe steeds benadeel sal word.

“Meisies wat op drie, vyf of sewe ’n ongereelde slaaptyd gehad het, het beduidend swakker lees- en ruimtepunte behaal,” het die ondersoek getoon. Seuns het ’n beduidend swakker telling gehad as hulle op twee van die ouderdomme (drie, vyf of sewe jaar) ’n ongereelde slaaptyd gehad het.

Die navorsers beveel aan ’n kind van sewe kry elke nag 10 tot 11 uur slaap.

Sr. Ann Richardson, ’n spesialisvergleegster en ouerafrigter by die Lonehill-babakliniek in Johannesburg, sê: “Die vestiging van gesonde slaapgewoontes van die begin af sal sorg dat jou kind glad by jou gesin se roetine inpas.” Maar sy sê dis nie noodwendig iets wat vir kleuters natuurlik is nie en hulle het hulp van hul ouers nodig.

Volgens Ann is daar twee goed wat jy kan doen om ’n goeie slaaptyd daar te stel. Die eerste is ’n slaapplek, wat kan wees waar die kind ook al slaap, of dit nou in hul eie kamer of joune is, en die tweede is ’n vaste slaaproetine. “Kleuters floreer op roetine; daarom sal dieselfde slaaptydroetine elke aand gou vir hulle ’n teken word dat hulle na ’n rustige toestand moet oorskakel.”

Skep ’n slaapplek

-         Maak seker die vertrek is donker of het net ’n dowwe lig. As hulle bedags slaap, maak die gordyne toe.

-         Gee slaapmaats soos ’n opgestopte dier, ’n kussing of gunsteling-kombers.

-         Kies ’n kalm kleurskakering en vermy helder en primêre kleure.

-         Vermy vreesaanjaende plakkate of muurskilderye en oorvol rakke. Dit kan hul aandag aflei en die slaap weghou.

-         Moenie kamerjasse of handdoeke agter die deur hang nie; dit kan vreemde en soms vreesaanjaende vorms in dowwe lig aanneem.

-         Vermy die glinstering van ’n venster of ganglig.

-         Hou die speelplek in ’n ander deel van die huis sodat speel nie met slaap verwar word nie

-         Hou die wieg of bed weg van kragproppe af.

Skep ’n slaaptydroetine

-         Hou dié tyd van die dag kalm en stil deur ruwe spel en opwinding te beperk.

-         Doen ontspannende aktiwiteite saam soos tuin natmaak, legkaart bou of I spy speel.

-         Probeer aandete elke aand op dieselfde tyd voorsit en dieselfde aktiwiteit tot slaaptyd doen, soos boek lees.

-         Maak opruim deel van die roetine sodat hulle kan leer speelgoed en borde wegpak, is deel van ’n mens se slaaptydroetine.

-         Laat hulle jou help pajamas op die bed uitlê ter voorbereiding op aantrek en gaan slaap.

-         Laat hulle bad voor slaaptyd en sprinkel  ’n druppel laventel of kamille in die water. Beperk badspeelgoed tot eenvoudige stapelspeelgoed.

-         Draai hulle styf in ’n warm handdoek toe wanneer hulle klaar is en droog met diep, ferm hale af wat jou kind sal help ontspan.

-         Sing ’n gunsteling kalmerende liedjie voor slaaptyd.

-         Beproef ’n babamassering ná badtyd. Ann sê dit is een van die doeltreffendste maniere om enigiemand te laat kalmeer, ook kinders, en dit versterk die band tussen ouer en kind. Die Internasionale Vereniging vir Babamassering in Suid-Afrika (011-787-0681) kan nog inligting bied.

-         Speel kalmerende musiek soos wiegeliedjies.

-         Lees saam; dit kan ’n kalmerende oefening wees. Hou by ouderdomsgepaste stories of ou gunstelinge.

-         Sê ferm nag ná die laaste soen en drukkie terwyl jou kind nog “gelukkig wakker” is, nie lomerig of aan die slaap nie. Ann maan jy skep so nie die verwagting dat jy altyd by hulle sal bly. Dit kan later ’n probleem word, veral as hulle moet uitslaap of iemand anders hulle oppas.

-Dalena Theron

BRON: Sr. Ann Richardson is die mede-skrywer van die boeke Baby Sense en Sleep Sense en die skrywer van die boek Toddler Sense (Metz Press: 2011 nuwe uitgawe). Die bogenoemde wenke is in die boek te kry en Ann bied ook slypskole oor die onderwerp aan. Nog inligting: toddlersense.co.za.

*Navorsers aan die departement epidemiologie en openbare gesondheid aan die Universiteitskollege van Londen het die ondersoek gedoen. Die Journal of Epidemiology and Community Health (jech.bmj.com) het dit in Julie 2013 aanlyn gepubliseer. Die volledige teks kan by jech.bmj.com/content/67/11/926.full gesien word.