Twee kouefronte word oor die volgende ses dae verwag, waarvan die eerste Saterdagmiddag in die Wes-Kaap sal aankom. Matige reën sal in Kaapstad en die omliggende wynlande val en oornag na die Weskus en Overberg versprei. Sterk winde word volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens ook aan die kus en binneland asook Noord-Kaap en Oos-Kaap verwag.


 Die swaarder tweede front sal Kaapstad Dinsdagaand bereik en na verwagting wydverspreide reën in die suidwestelike dele van die land bring, met swaar reën, 50 mm binne die eerste 24 uur, teen Woensdag.

 Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku egter dat hierdie fronte amper geen duik in die Kaap se voortslepe droogte sal maak nie, hoewel daar ’n groot risiko van kitsvloede is.

 Volgens Storm Report SA kan tot 80 mm reën in sommige gebiede val, met sneeu op die Matroosberg en ander hoë bergspitse in die Wes-Kaap.

 Die tweede front sal deur die loop van Dinsdag en Woensdag baie sterk winde, in sommige gevalle selfs stormsterk, in die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Vrystaat teweegbring. Dit sal ook baie koud wees Donderdag en Vrydag in dié provinsies.