Dagbesoekers aan die Krugerwildtuin word versoek om op die hekkwotas te let wanneer hulle hul besoek beplan, want dit sal streng toegepas word tydens die Paasnaweek, wat van Donderdag 2 April tot Maandag 6 April duur.

Die Krugerwildtuin, wat onlangs as een van die gewildste parke ter wêreld aangewys is saam met plekke soos Machu Picchu in Peru, pas gewoonlik heeljaar die jaar kwotas toe, maar dit word meestal oor langnaweke of openbare vakansies soos die Paasnaweek bereik.

Die wildtuin raai besoekers in ’n verklaring aan om baie vroeg soggens by die hek op te daag, want diegene wat eerste kom, word eerste gehelp, of vooraf hul toegang te bespreek deur die sentrale besprekingskantoor by 012-428-9111 om toegang te kry.

Vooraf besprekings vereis ’n nieterugbetaalbare, vooruitbetaalbare deposito van R36 per volwassene en R18 per kind.

Dagbesoekers met vooraf besprekings moet voor 13:00 op die bespreekte dag by die betrokke hek wees, anders verval die bespreking. ’n Vooraf bespreking stel nie die dagbesoeker daarvan vry om die gewone bewaringsfooie met aankoms by die hek te betaal nie, maar verseker vir hom of haar toegang.

Alle besoekers word daaraan herinner om hul ID of ’n alternatiewe vorm van identifikasie saam te neem om probleme by die hek te voorkom.