Die ongeluk het op die N3 tussen Villiers en Warden in die Vrystaat gebeur nadat die bestuurder van ’n vragmotor glo agter die stuurwiel aan die slaap geraak het.

Karen Steyn (40), al oorlewende lid van die gesin, is ernstig beseer en word in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria behandel.

[caption id="attachment_142953" align="aligncenter" width="600"]Karen is tans nog in die hospitaal. Foto verskaf. Karen is tans nog in die hospitaal. Foto verskaf.[/caption]

Die Steyn-gesit is op Vrydag 21 Oktober vroegoggend by hul huis in Noordheuwel weg om die naweek in Durban deur te bring. Nadat hulle op Villiers by ’n vulstasie stilgehou het om koeldrank te koop, het hulle weer die lang pad see toe aangedurf.

Kort daarna het ’n swaarvragmotor hul motor reg van voor getref. Bertus en Kyle is albei op slag dood en Karen is in die motorwrak vasgekeer.

[caption id="attachment_142950" align="aligncenter" width="600"]Bertus Steyn en sy seun, Kyle. Foto verskaf. Bertus Steyn en sy seun, Kyle. Foto verskaf.[/caption]

Nadat nooddienste haar daaruit bevry het, is sy in ’n ernstige toestand na die Villiers-hospitaal geneem.

Van daar is sy oorgeplaas na Steve Biko, waar sy vandag opereer word. Haar regterheup en -been is gebreek en haar regtervoet erg beseer.

Volgens Bertus se suster, Tanja Steyn, het ’n paramedikus gehoor toe die vragmotorbestuurder ’n kollega vra om niks te sê daaroor dat hy agter die wiel aan die slaap geraak het nie. Sover bekend is die bestuurder ongedeerd. Hy is op die toneel in hegtenis geneem.

[caption id="attachment_142954" align="aligncenter" width="600"]Wat oorgebly het van die gesin se motor. Foto verskaf. Wat oorgebly het van die gesin se motor. Foto verskaf.[/caption]

Die begrafnisreëlings vir Bertus, ’n entrepreneur in die staalbedryf, en Kyle, ’n gr. 4-leerder aan die Laerskool Kenmare, is nog nie gefinaliseer nie. Dit sal na verwagting oor twee weke gehou word, wanneer Karen hopelik al aangesterk het. Sy werk by ’n sekuriteitsmaatskappy as ’n kliënteverhoudingsbestuurder.

“Ons vat dit maar dag vir dag,” sê Tanja, ook ’n inwoner aan die Wes-Rand. “Die ongeluk voel steeds so onwerklik.”