Só het landdros Keith Paige Maandag in die Krugersdorpse streekhof gesê.

Die aanklagte teen Zak Valentine (31), wat na bewering in Desember sy eie dood versin het, sy vriendinne Cecelia Steyn (35), Marinda Steyn (50), haar kinders Le Roux (21) en Marcel (18) en hul vriend, John Barnard (40) moet nog amptelik geformuleer word.

Die ses verdagtes sou Maandag vir die eerste keer saam hier in die beskuldigdebank gestaan, maar Zak is glo weens lae bloedsuiker gehospitaliseer. Die landdros het gelas dit sal die laaste keer wees wat hy die verrigtinge na die hooggeregshof in Johannesburg verwys.

Le Roux kon nie ophou glimlag terwyl joernaliste en fotograwe hom en sy mede-beskuldigdes afgeneem het nie. Hy het slegs met sy suster gepraat. Sy het meestal strak voor haar uitgekyk.

Ma en seun het glad nie na mekaar gekyk nie. ’n Polisiebron het aan Huisgenoot bevestig dat ZaK na ’n ander gevangenis weg van Le Roux geskuif is nadat die polisie ’n wenk gekry het Marinda en Zak wil Le Roux glo met die insekdoder Two-Step laat vergiftig.

Die hof het gehoor Cecelia wil weer op 5 Desember om borgtog probeer aansoek doen.

Die aanklagte teen die ses hou verband met elf moorde wat so ver terug as 2012 dateer en sluit die moorde op die versekeringsmakelaars Anthony Scholefield (64), Kevin McAlpine (29) en die eiendomsagent, Hanlé Lategan (52), in Krugersdorp in Mei 2016 in.

Verskeie familielede van die slagoffers was Maandag in die hof.

Nóg moorde waarmee die verdagtes direk of indirek verbind kan word, is dié van Jarrod Jackson, ’n straatsmous van Krugersdorp, wie se lyk na bewering in Zak se uitgebrande motor naby Petrus Steyn gevind is, Glen McGregor (57), ’n rekeningkundige van Krugersdorp en Peter (52) en Joan (48) Meyer.

Die beskuldigdes sal weer op 27 Januarie 2016 voorkom.

Dit is glo hoe die moorde verloop het:

2012:

JULIE: Natasha Burger (33) van Centurion en haar buurvrou, Joy Boozaaier (68) van Centurion word saam vermoor. Natasha was in dieselfde kerk as Cecelia, Marinda en Zak, The Overcomers Through Christ (OTC).

AUGUSTUS: Past Reginald Bendixen (75) van Honeydew, Johannesburg word in sy huis vermoor. Hy was bevriend met Ria Grunewald, wat glo die OTC saam met Cecelia gestig het. Die moorde het gebeur na Cecelia en Ria se vriendskap versuur het.

OKTOBER: Mikayla Valentine (25) Ruimsig, Roodepoort, vrou van Zak Valentine en lid van die OTC word vermoor.

2015:

NOVEMBER: Peter (52) en Joan (48) Meyer van Noordheuwel, Krugersdorp word in hul huis vermoor. Beskuldigde John het glo vir die egpaar gewerk.

DESEMBER: Zak Valentine versin sy dood en die straatsmous, Jarrod Jackson van Krugersdorp se lyk word in Petrus Steyn in die Oos-Vrystaat in sy motor gekry. Cecelia is sy enigste begunstigde op sy lewenspolis. Marinda help haar om die geld te probeer eis. Hulle is aangekeer nadat die polisie besef het dit was nie Zak in die voertuig nie.

2016:

JANUARIE: Glen McGregor (57), rekeningkundige van Krugersdorp word op sy hoewe in Randfontein doodgeskiet. Marinda het hom glo genader om haar met belasting te help.

10 MEI: Anthony Scholefield (64), versekeringsmakelaar van Krugersdorp se lyk word in sy kattebak op die dorp gevind.

26 MEI: Kevin McApline (29), versekeringsmakelaar van Krugersdorp se lyk word in sy kattebak op die dorp gevind.

31 MEI: Hanlé Lategan (52), eiendomsagent van Krugersdorp se lyk word in langs ’n stroom in Randfontein gevind.

Arrestasies tot dusver:

JUNIE: Tiaan Kruger (29), Fabian Luff (32), Le Roux Steyn (20) en Marcel Steyn (18) word in verband met die moorde op Hanlé, Kevin en Anthony aangekeer. Die klagte is in tussen teen hulle teruggetrek. Hulle was nie by enige van die moorde betrokke nie.

JULIE: Zak Valentine (31) word daarvan aangekla dat hy sy eie dood versin het.

AUGUSTUS: Marinda Steyn (50) en haar vriendin, Cecelia Steyn (35) word in verband met Zak se “dood” en die sameswering van moord op Jarred aangekeer. Marinda is die ma van Le Roux en Marcel. Sy word by die moord op Glen McGregor betrek.

AUGUSTUS: John Barnard (40) word in verband met die moord op Glen McGregor gearresteer.