Die aansoek om borgtog van Cecilia Steyn, wat van bedrog aangekla word, is op Maandag 12 September in die Krugersdorp-landdroshof van die hand gewys.

Landdros Keith Page het die aansoek geweier.

Die 35-jarige Cecilia is op 24 Julie in hegtenis geneem. Sy het op 25 Julie saam met haar boesemvriendin, die onderwyseres Marinda Steyn (50), die eerste keer op aanklag van bedrog in die Krugersdorp-hof verskyn.

Die twee word aangekla van versekeringsbedrog ter waarde van R3,6 miljoen saam met nog ’n verdagte, Zak Valentine. Zak (31) is glo Cecilia se sielsgenoot.

Lees ook: Familie verstom toe ‘dooie’ man in die Krugersdorpse landdroshof verskyn

Ná hul destydse verskyning het klagte teen die twee opgestapel.

Daar bestaan ook die moontlikheid dat van die klagte as ’n skedule 5-misdryf – sameswering tot moord – geklassifiseer kan word.

Cecilia se uitgerekte bortogaansoek is afgekeur nadat die staat bekend gemaak het dat sy geen vaste werk of vaste woonadres het nie. Sy word as ’n vlugrisiko beskou.

Cecilia ly glo aan erge asma en epilepsie en het dit as deel van haar aansoek om borgtog voorgelê.

Dit was egter nie as voldoende beskou om haar aansoek goed te keur nie.

“Ek is tevrede met die uitspraak. Die beskuldigdes is nie net ’n gevaar vir die gemeenskap nie, maar vir hulself ook. Die uitspraak is ook goed vir hul eie veiligheid en vir die ondersoek van die saak,” het speurkapt. Ben Booysen aan Huisgenoot gesê.

Marinda se dogter, Marcel Steyn, word in hierdie stadium nog nie met die ondersoek na bedrog verbind nie.

Cecilia en Marinda sal weer op 3 Oktober in die Krugersdorp-landdroshof verskyn saam met Marinda se seun, Leroux Steyn, Zak Valentine en John Barnard, ’n familievriend van die Steyns.

Lees ook: Krugersdorp-afspraakmoordsage verdiep, ’n agtste verdagte vasgetrek

Op 13 Oktober sal die afspraakmoorde, ook bekend as die Krugersdorp-kattebakmoorde, se saak in die Roodepoort-landdroshof hervat word. Nuwe beskuldigdes sal dan na verwagting saam met Johannes Christiaan Kruger (beskuldigde nommer een), Marcel en haar broer, Leroux, verskyn.