Die vier word aangekla van diefstal, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en moord.

Die drie vermoordes is:

1. Anthony Scholefield: ?’n Bedrag van R9 600 is uit sy bankrekening onttrek. Sy bankkaarte is die volgende dag by ’n slaghuis, klerewinkel en kafee gebruik. Sy beursie, skootrekenaar en selfoon is gesteel.

2. Kevin McAlpine: ’n Bedrag van R1 300 is uit sy rekening onttrek. Sy beursie, skoene en trouring is gesteel.

3. Hanle Lategan: Sy is op 30 Mei om 18:01 die laaste keer gesien. Teen 18:30 is ’n bedrag van R3 000 uit haar rekening onttrek. Haar handsak, iPad en trouring is gesteel.

Beskuldigde 2 het vroeg reeds aangedui dat hy nie om borgtog aansoek gaan doen nie.

Die hof het die verklarings aangehoor van die ander drie beskuldigdes – Christiaan Kruger (29), Leroux Steyn (20) en sy suster, Marcel Steyn (18).

Daar is meermale melding gemaak van ’n foto wat op Marcel Steyn se foto gevind is. Die opspraakwekkende foto wys glo die vasgebinde liggaam van Hanle Lategan, ’n eiendomsagent wat na bewering die viertal se derde slagoffer was.

Landdros Delize Smith was luidens berigte duidelik nie beïndruk deur Leroux Steyn se optrede terwyl sy die verklaring van die staat voorgelees het nie.

Sy het adv. Victor da Silva gelas om sy kliënt, Leroux, wat laggend langs sy suster gesit het, te beheer.

“Hulle sal dit nie weer doen nie,” het Da Silva in reaksie daarop gesê. Landdros Smith het voorts genoem dat die twee ook hul sosialemedia-teenwoordigheid “skoongemaak het” nadat hulle bewus daarvan geraak het dat die polisie op hul spoor is. Albei is werkloos en sonder ’n vaste adres. Hulle kan ’n vlugrisiko inhou. Die broer en suster het in hul verklarings aangedui dat hulle nie skuldig gaan pleit nie.

Daar is ook in die hof kortliks melding gemaak van twee moorde wat in 2015 gepleeg het. Dit kan verband hou met die huidige saak. Daar bestaan ook ’n moontlikheid dat nog verdagtes aangekeer kan word.

Borgtog vir die drietal is geweier. Landdros Smith het die volgende as redes aangevoer: “Julle verklarings weerspreek mekaar. Daarom, deur borg aan julle toe te staan, kan julle ’n gevaar vir die samelewing inhou.”

Bronne: krugersdorpnews.com, timeslive.co.za, citizen.co.za