John Barnard (40), van Krugersdorp, het Maandag in die plaaslike streekhof verskyn vir die moord op Glen McGregor (57), ’n rekeningkundige van Krugersdorp verskyn, nadat hy deur kapt. Ben Booysen, die ondersoekbeampte en sy span gearresteer is.

John het Maandag ’n bekentenis voor ’n streeklanddros afgelê.

Hy verskyn Dinsdag saam met Marinda Steyn en haar seun, Le Roux (20), wat ook nou by Glen se moord betrek word. Die voorlopige klagtes is moord en roof met verswarende omstandighede. Zak Valentine verskyn ook môre weer op aanklagte dat hy sy eie dood versin het.

Glen is in Januarie verjaar op sy hoewe in Randfontein doodgeskiet en beroof. John is ’n goeie vriend van Marinda Steyn (50), wat ook van die moord op Glen, verdink word en weer op 30 Augustus in die hof sal verskyn. Glen se onderneming was naby aan Marinda se woonstel in Burgerstraat.

Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder van Randfontein, het Vrydag ’n verklaring uitgereik en gesê dat ’n arsenaal van wapens en ammunisie in Marinda se ou woonstel in die Cosanna-woonstelblok gevind is.

Polisielede en speurders van Randfontein, Krugersdorp en die provinsiale ondersoekeenheid en sy span het op vyf pistole, ’n haelgeweer en aanvalsgeweer beslag gele, het die polisie se verklaring gelui.

Met Huisgenoot se onlangse besoek was dié woonstel ontruim en was werkers met opknappingwerk besig, maar Huisgenoot het vertroulik verneem die vuurwapens, ammunisie en messe is agter in ingeboude kaste versteek. Die polisie het ook vroeer ’n groot hoeveelheid ammunisie in Marinda, ’n Engelse onderwyser by die Hoërskool Jan de Klerk in Krugersdorp, gevind.

Die polisie ondersoek in die stadium 11 moorde, wat sedert 2012 gepleeg is, en sal waarskynlik ondersoek of die wapens met van die moorde verbind kan word.

Huisgenoot kan onthul John was ook ’n jarelange en getroue werknemer van nóg twee van die slagoffers, die skatryk egpaar Peter en Joan Meyer, wat in November 2015 in hul spoghuis in Noordheuwel, Krugersdorp doodgesteek is.

John was een van die eerste mense wat vir Peter (52) en Joan (48) by hul drukkery, Colour Magic, in 1995 in Roodepoort begin werk het. Hy was ’n masjinis en het voor Peter grootgeword, het ’n familielid van die Meyers aan Huisgenoot bevestig.

Dit is hoe die moorde verloop het:

2012:

Julie: Natasha Burger (33) van Centurion en haar buurvrou, Joy Boozaaier (68) van Centurion word saam vermoor.

Augustus: Past Reginald Bendixen (75) van Honeydew, Johannesburg word in sy huis vermoor.

Oktober: Mikayla Valentine (25) Ruimsig, Roodepoort, vrou van Zak Valentine word vermoor.

2015:

November: Peter (52) en Joan (48) Meyer van Noordheuwel, Krugersdorp word in hul huis vermoor

Desember: Zak Valentine versin sy dood en die straatsmous, Jarrod Jackson van Krugersdorp se lyk word in Petrus Steyn in die Oos-Vrystaat in sy motor gekry.

2016:

Januarie: Glen McGregor (57), rekeningkundige van Krugersdorp word op sy hoewe in Randfontein doodgeskiet.

Mei 10: Anthony Scholefield (64), versekeringsmakelaar van Krugersdorp se lyk word in sy kattebak op die dorp gevind.

Mei 26: Kevin McApline (29), versekeringsmakelaar van Krugersdorp se lyk word in sy kattebak op die dorp gevind.

Mei 31: Hanlé Lategan (52), eiendomsagent van Krugersdorp se lyk word in langs ’n stroom in Randfontein gevind.

Arrestasies tot dusver:

Junie: Tiaan Kruger (29), Fabian Luff (32), Le Roux Steyn (20) en Marcel Steyn (18) word in verband met die moorde op Hanlé, Kevin en Anthony aangekeer.

Julie: Zak Valentine (31) word daarvan aangekla dat hy sy eie dood versin het.

Augustus: Marinda Steyn (50) en haar vriendin, Cecelia Steyn (35) word in verband met Zak se “dood” en die sameswering van moord op Jarred aangekeer. Marinda is die ma van Le Roux en Marcel. Sy word by die moord op Glen McGregor betrek.

Augustus: John Barnard (40) word in verband met die moord op Glen McGregor gearresteer.