Henry die nylkrokodil vier Dinsdag sy 114de verjaardag en is die oudste bekende krokodil in aanhouding.

krok

Hy woon in die Crocworld-bewaringsentrum in Scottburgh, KwaZulu-Natal.

Hy het in die Okavango-delta in Botswana die lewenslig aanskou en is in 1903 gevang.

Volgens die Google-boek African Expedition Vol. 6 was die krokodil ’n “mensvreter en het verskeie kinders geëet”. ’n Stam in Botswana het ’n olifantjagter, ene sir Henry, gevra om die krokodil dood te maak, maar ná oorweging het hulle besluit om die krokodil met lewenslange aanhouding te straf.

Henry het Crocworld sedertdien sy tuiste gemaak en lê en sonbaai by sy eie dam, sê die sentrum se algemene bestuurder, Martin Rodrigues.

“Henry het ’n taamlik lekker lewe by die sentrum; hy het ses vroue en vanjaar kry al sy weldoeners koek en ballonne vir sy merkwaardige verjaardag,” het Martin gesê.

Henry het selfs sy eie Twitter-rekening, @henrythecroc.