Kritici kap Diana, ’n biografiese rolprent oor die oorlede prinses van Wallis wat 16 jaar gelede in ’n motorongeluk in Parys dood is, net ure ná sy wêreldpremière Donderdag.

Die hoofrolspeler, Naomi Watts, het reeds haar deelname verdedig aan die omstrede rolprent. Dit handel oor Diana se romanse met Hasnat Khan, ’n Pakistanse dokter wat in Londen woon.

Binne ure ná die première het ’n reeks genadelose resensies in die Britse pers die partytjiegees geblus.

The Times het Naomi geloof omdat sy “haar uiterste bes met ’n verleentheidswekkende draaiboek” gedoen het, maar tot die gevolg gekom dat die rolprent ten spyte daarvan “vrotsig en bemoeisiek” is.

“Arme prinses Diana,” het die Guardian-resensent Peter Bradshaw geskryf.

“Ek huiwer om die woord ‘motorongeluk-rolprentteater’ te gebruik. Maar die aaklige waarheid is dat, 16 jaar ná daardie afgryslike dag in 1997, sy nog ’n gruwelike dood gesterf het.”

Die Daily Telegraph het twee sterre aan die rolprent toegeken, een meer as die Guardian en Times, maar was ook vernietigend in sy beoordeling.

“Wat is die punt van Diana?” wil die resensent Davis Gritten weet.

Die rolprent, wat op Kate Snell se boek Diana: Her Last Love gegrond is, wil dit hê dat Diana met Dodi Fayed, wat baie vriende as haar ware liefde beskryf, begin uitgaan het om Hasnat jaloers te maak.

Die bewering word deur baie mense wat na aan die prinses was verwerp.

Diana en Dodi is in 1997 dood toe die Mercedes waarin hulle gery het in ’n tonnel in Parys teen ’n pilaar vasgejaag het terwyl persfotograwe hulle agtervolg het.

Diana en die Britse troonopvolger, prins Charles, is in 1996 geskei ná 15 onstuimige huweliksjare. Prins William en Harry is in dié tyd gebore.

Naomi, geklee in ’n nousluitende wit rok, was op die rooi tapyt by die Londense Leicester Square vergesel van die Brits-Indiese akteur Naveen Andrews, wat die rol van haar minnaar vertolk.

Die Brits-Australiese aktrise, wat in 2001 in Mulholland Drive bekend geraak het, het erken dat sy ’n kans gewaag het om die rol van die “volksprinses” te aanvaar.

Gevra of sy dink dat die rolprent Diana se seuns aanstoot sal gee, het sy aan BBC TV gesê: “Hopelik sal hulle, wanneer hulle die rolprent sien, voel dat ons dit met respek en sensitief uitgevoer het.

“Ons probeer haar karakter so eervol moontlik uitbeeld.”

Naomi het egter Woensdag tydens ’n afsonderlike onderhoud met BBC radio uitgestorm, blykbaar ontstig oor ’n vraag.

Die verbaasde aanbieder, Simon Mayo, het getwiet dat Naomi “’n bietjie ongemaklik met die vrae” gelyk het.

Die koninklike familie ignoreer die rolprent.

Die vervaardiger, Robert Bernstein, beweer dat die koningshuis behulpsaam was deur verfilming toe te laat in Kensington Gardens waar Diana gedraf het, maar ’n woordvoerder vir die koninklikes het aan AFP gesê dat dié gebied nie onder hul jurisdiksie val nie.

Sommige kritici het opgemerk dat Naomi nie juis na Diana lyk nie: sy moes ’n vals neus in die film dra.

Naomi is die enigste gevestigde filmster in die rolprent. Naveen is veral bekend om sy rol in die TV-reeks Lost, hoewel hy ook 17 jaar gelede Juliette Binoche se geliefde in The English Patient gespeel het.

Hasnat, wat nog in Brittanje werk, het die rolprent as “heeltemal verkeerd” beskryf, en gesê hy is nie van plan om dit te sien nie.

Hy het nog nooit oor sy verhouding met Diana gepraat nie, wat beteken dat die rolprentvervaardigers hulle die tonele tussen hom en die prinses moes voorstel. -Sapa Lees Meer:

Naomi Watts wou ’n ingewikkelde Diana vertolk

Naomi ‘verlam’ haar gesig vir Di-rol

Di-fliek ‘vol foute’